Opinion

Die geheim agter gedrag

Remediërende terapeut praat oor kinderontwikkeling en ondersteuning.

• Nikkie Swart, ‘n remediërende terapeut skryf:

Hoe gereeld hoor mens “die seuntjie in my kind se klas was vandag weer so stout”, of “die dogtertjie in die winkel se vloermoer het almal laat staar”.

Ons is vinnig om te sê dat kinders stout is en skryf dit toe aan ‘n gedragsprobleem wat veroorsaak dat mense glo die kind is rebels, ongehoorsaam of miskien lastig en onmoontlik. Ons as ouers begin hopeloos voel in ons pogings om ons kinders reg groot te maak en bevraagteken ons bekwaamheid as ouers, maar ons kyk die redes agter dié tipe gedrag mis.

‘n Kind se gedrag is ‘n manier om ‘n boodskap oor te dra en is ‘n wyse van kommunikasie wat vir ons insig gee in die kind se emosionele toestand. Dit bied vir ons ‘n manier om ons kinders se behoeftes en vermoëns beter te verstaan. Gedrag is ‘n reaksie op gebeure in ‘n kind se lewe en daar is talle faktore wat ‘n rol speel in die manier waarop kinders hul omgewing ervaar.

Dit het ‘n groot uitwerking op ‘n kind se ontwikkeling en as ‘n kind nie weet hoe om die situasie te hanteer nie, manifesteer problematiese gedragspatrone, soos onttrekking of vermyding van sekere aktiwiteite, gereelde probleme met slaap, nagmerries, eetversteurings, oormatige skaamheid en moegheid, impulsiwiteit, gereelde emosionele uitbarstings, leuens, onoplettendheid, aggressie, lae selfvertroue, angstigheid, frustrasie en tekens van depressie.

Dit is belangrik dat ouers kennis neem as hulle enige van hierdie tipe gedrag in hulle kinders begin waarneem en dan die nodige stappe neem om professionele hulp te bekom.

Kinders se emosionele belewenis kan geassesseer word deur gekwalifiseerde persone, soos maatskaplike werkers en sielkundiges, wat dan die nodige aanbevelings kan doen om die kind en die gesin te help om die uitdagings die hoof te bied.

Vir enige navrae oor kinderontwikkeling en -ondersteuning, kontak gerus vir Shané van Tonder by info@livinglinks.co.za of 076 611 1131.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button