Wat was die rede vir Toekies-betoging?
Wie het die slapende brakke aan die stert gegryp en losgelaat?
Die skielike vernietigende uitbarsting van oproerigheid hier, het eerder gelei tot vele meer diensleweringvertragings in Toekomsrus.
Noodsaaklike dienste is feitlik tot stilstand gedwing en onder haglike omstandighede hervat weens onpeilbare skadeberokkening.
Alle betrokkenes – die Rand-Wes Munisipaliteit en die gemeenskap – sit nou met hul hande in die hare … Die rampgebied lyk soos die werk van die duiwel, met vele onnodiglike beserings en inhegtenisname van betogers. Hierdeur is die huurkantoor algeheel verwoes weens brandstigting.
Selfs die voedingskema van die swaargebukte bejaardes by die biblioteek (Trudy’s Nest) is geaffekteer. Sommige armoedeverligtingsaansoeke het in vlamme opgegaan en huuraanslae word nou by die stadsaal afgehaal en beklink. Ongerieflik!
Dit is in hierdie stadium nie duidelik wie die oproer aangevuur het nie aangesien die betoging gemeenskaplik en apolities was. Die aanvanklike beweegrede was HOP-behuising en werksgeleenthede.
Vir die onoplettendes: Diensverskaffing het wel intussen ‘n aanvang geneem – die sierlike steenloopvlakke by die sakesentrum en openbare fasiliteite, die omheining van die plaaslike begraafplaas, ‘n skoongeskraapte oop vlakte vir die oprigting van bekostigbare behuising en die opknapping van die sportstadion en kleinsakesentrums vir voornemende vakmanne.
Wanadministrasie, swak en goedkoop aarbeid het gelei tot die totstilstandkoming van die binnemuurse sportkompleks en swembaddens. Gerugte doen die rondte dat ‘n hooffiguur van die stadsraad ‘n onverskillige aanmerking teenoor die ‘kleurling’-gemeenskap elders geuiter het. Dit was genoeg en hieruit het die vandalisme, sabotasie en vernielsugtigheid gespruit. Stilswye deur die media was aanvaarbaar onvermydelik.
Die vraag ontstaan: Wie het die slapende brakke aan die stert gegryp en losgelaat?



