Opinion

Let op hoe jy met jou kinders praat

Die manier waarop ons met ons kinders praat beïnvloed hul sosiale en emosionele ontwikkeling.

Die manier waarop ons met ons kinders praat, beïnvloed hul sosiale en emosionele ontwikkeling, en die manier waarop hulle die wêreld ondervind, word gevorm deur hul persepsie van die lewe.

Hierdie sienings word weer beïnvloed deur hul daaglikse ervarings, maar een ding wat gereeld misgekyk word, is neerhalende taalgebruik, emosionele verwaarlosing en sielkundige mishandeling.

Soms is neerhalende gedrag en verbale afkraking teenoor ‘n kind nie ernstig genoeg om as mishandeling beskou te word nie, maar dit kan steeds kinders se selfbeeld en selfvertroue skade berokken, wat dan veroorsaak dat hulle negatief oor hulleself voel. Kinders kan dan onder andere waardeloos, nutteloos, ongewens en ongeliefd voel.

Sielkundige en emosionele afkraking kan wissel van ‘n ligter, neerhalende afwysing (“Gaan weg, ek is besig”), tot aggressiewe uitbarstings (“Ek wens jy is nooit gebore nie!”). Dikwels word die eersgenoemde as skadeloos beskou, maar dit kan ‘n groter impak op ‘n kind hê as wat ons mag dink. Hierdie minagting en verkleinering word daagliks in klaskamers en huise aangetref, wat ons kinders kwesbaar maak vir emosionele en gedragsafwykings.

In ‘n artikel van die American Psychological Association (APA) word daar verwys na emosionele mishandeling as onsigbare wonde (unseen wounds). Volgens hul navorsing is die uitwerking van emosionele mishandeling later dieselfde as dié van fisiese en seksuele mishandeling. Oormatige blootstelling aan afkraking, verkleinering, verwaarlosing en neerhalende gedrag kan ‘n langdurige sielkundige uitwerking hê wat ‘n kind dan vatbaar maak vir emosionele onstabiliteit, soos angs en depressie. In ernstige gevalle, is selfmoord ‘n algemene risiko.

Kinders moet met respek behandel word. Dit is ons verantwoordelikheid om positiewe rolmodelle te wees waarna kinders kan opkyk en veilig by voel.

“You can’t teach children to behave better by making them feel worse. When children feel better, they behave better.” – Pam Leo

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button