My mening oor kerk teenoor drankwinkel-persepsie
Dit is my beskeie mening dat mens nie so 'n gevolgtrekking kan maak deur bloot die getal kerke en die getal drankwinkels teen mekaar op te weeg nie.
“Daar is ‘n persepsie dat Randfontein meer drankwinkels as kerke het. Hoe voel jy daaroor?” net die volgende …
Dit lyk aanvanklik na ‘n eenvoudige vraag wat beantwoord kan word deur blote waarneming. Is dit feitelik so, ja of nee; en dan wat is die gevolgtrekking van so ‘n waarneming? Wel die feitelike antwoord het ek nie, want ek weet nie noodwendig van al die kerke en al die drankwinkels nie.
Agter die vraag lê veel meer – die teenoormekaarstelling van kerke vs drankwinkels en die persepsie of aanname dat indien ‘n dorp meer drankwinkels as kerke het, die dorp onder andere onder morele verval ly. Dit is my beskeie mening dat mens nie so ‘n gevolgtrekking kan maak deur bloot die getal kerke (geboue waar die kerk bymekaarkom) en die getal drankwinkels teen mekaar op te weeg nie.
Hiermee ontken ek ook nie dat alkoholmisbruik ‘n wesenlike probleem in die samelewing is nie, veral ook in tye van ekonomiese druk.
Uiteindelik dink ek nie die aantal kerke vs drankwinkels is die maatstaf om te sien hoe godsdienstig ‘n dorp is of nie is nie. Daarvoor moet ons dalk eerder na die mense van die dorp gaan kyk!



