Totsiens aan drie steunrotse van Toekies
In slegs die afgelope drie weke het Toekies drie senior vooraanstaande steunrotse van die samelewing verloor.

In slegs die afgelope drie weke het Toekies drie senior vooraanstaande steunrotse van die samelewing verloor.
Hulle was aunt Vengie Meagur, ‘n voorbiddende moeder van die Roomse kerk, tannie Tina Stellenburg, ‘n ontwerperskleremaakster, en helaas oom Sonnyboy Louw, die karweier van vele hulpbehoewende vervoerlose inwoners … te eniger tyd.
Werklikwaar opregte steunpilare van ons wye sosiale landskap, wat hulpbystand en gemeenskapsbetrokkenheid betref.
Oom Sonnyboy (my sorgouer) is Saterdag 6 Mei onder stille geween en diepe treurklanke hier plaaslik ter ruste gelê. Selfs ‘n pastoor van Alabama, Klerksdorp het die diepgeraaktheid van die begrafnisgangers bespeur vanwee hulle onvermydelike treurige stilswye gedurende die samesang, maar voorsiene agtergrondmusiek oor die klankversterkers, soos die oom se gunstelingtranetrekker Across the bridge van wyle Jim Reeves, het hiervoor vergoed.
‘n Respekvolle erewag is in gelid na die graf gevorm deur die roubeklaers, onder wie heraangewese skoolhoof mnr Winston Morris (reg langs my) van die vervalle RSS-skool. Mnr Lionel Myles, ‘n jarelange seun van die grond en hoofomroeper van die ‘bruin’ gemeenskapsradiodiens Kofifi FM 97.2 (die stasie van die nasie watie rasie – hulle slagspreuk) was uiteraard die hoofspreker in alle gevalle, met roerende huldeblyke aan sy gestorwe tydgenote.
Beide mnr Myles en oom Sonnyboy was sokkergeesdriftiges van weleer in die Randfonteinse oulokasie – die eerste as sokkerspeler van Orlando Pirates en die tweede as afrigter van die plaaslik gevreesde Powerlines FC, met ons opkomende sokkersterre, wyle Patrick Ace Ntsoelengoe (my gelate vriend) en Joseph Banks Setlhodi aan die rys. Kaizer Chiefs het deur hulle ontstaan. Stilte, broeders!
Daar het mense verbygegaan, onder menslike vergetelheid. Laat dit so wees.



