Dienslewering oral ‘n probleem
Dit is duidelik dat die koalisiemunisipaliteite en hul werknemers nie langer die mas kan opkom nie.

Steurende rewolusionêre klaagtone rondom diensteverskaffing word deesdae uit alle areas onder die Rand-Wes se munisipaliteite gehoor, met dreigende wydverspreide ‘donnerbuie’ op die horison voorspel.
Dit is duidelik dat die koalisiemunisipaliteite en hul werknemers nie langer die mas kan opkom nie en dan word die feite verdoesel rondom onvoldoende fondsebemiddeling en swak begrotings, sonder enige verwysings na wanadministrasie, korrupsie en lyfwegstekery binne die stadsraad.
Toekies is een van die min alsgekleurde gebiede met parlementêre verteenwoordiging in die vorm van ons plaaslike huiskind, en tog gebeur alles in die teendeel. Jack Bloom, spook LUR vir Gesondheid en sy blanke kollegas van die DA is deesdae die enigste politici by die wetgewer en die media wat nog gehoor word namens die algehele Randfontein (in my teenwoordigheid).
Verder word die Herald gesien as tussenganger en nie-amptelike spreekbuis van die stemlose inwoners in die afwesigheid van gekose raadslede wat weekliks pronk met sensasionele gebreke in ons plaaslike publikasie.
Die lopende rioolwater en rommelverspreiding by die verpletterde huurkantoor, omliggende kerke en die sakesentrum spreek boekdele oor die huidige stand van die munisipaliteit wat deur gegriefde oproeriges uit die gebied verdryf is.
Slegs ‘n onvoorsiene wonderwerk kan huidiglik die inwoners red vanuit ‘n wanhopige situasie en hulle oortuigend aanspoor tot partysteun met die koms van die nasionale verkiesing. Dalk moet die parlement hierheen verskuif word.
‘n Prominente ontstemde sakeman by die slaghuis kan by tye sy ontstokenheid en frustrasies nie beteuel oor die traak-my-nie-agtigheid van die diensleweransiers en hulle yweraars nie.
AFD-Randfontein? Drankfontein? of Mid-Randfontein? Geniet jou opkikkers en versterkings en besluit maar self …



