
Opreg dankie vir die openhartige uitnodiging om ‘n opinie te lewer in verband met die nuuswaardige artikels wat ons geliefde Herald plaas.
Hiermee my stuiwer in die armbeurs. In die 40+ jaar wat ons in Randfontein woonagtig is, het ek nog altyd die plaaslike koerant geniet wat spesifiek oor plaaslike nuuswaardige sake verslag gelewer het; hetsy positief of negatief. Dit het oor hierdie spesifieke gemeenskap gegaan. Dit was nog altyd lekker om deur middel van die plaaslike Herald saam met ‘n ou kennis dankbaar te wees oor haar kind se prestasie.
Ook om ‘n traan te pink oor skielike hartseer wat ‘n persoon getref het. Die Herald was dan sommer ‘n konneksie om mense se lief en leed te deel.
Deur die jare het die koerantjie egter veranderings ondergaan. Geliefde of ander gereelde artikels het verdwyn. Die skoolblad en klein advertensies het gekrimp (laasgenoemde wat die Rand in Randfontein hou) en die kerkblad het verdwyn.
My voorstel: Back to Basics. Randfontein Herald is ‘n gemeenskapskoerant. Lewer verslag oor gemeenskaplike sake; gee asb terugvoering oor vergaderings, munisipale besluite, watersuiweringstoetse ens. Sommige sake het ongelukkig ‘n geneigdheid om in die lug te bly hang sonder die nodige terugvoering. Hiermee moet ek dan ook my ernstige misnoeë uitspreek oor ‘n hele blad, met ‘n eie hoofopskrif, wat afgestaan is aan die afdeling: Traditional Healers Directory. Waar is die blad vir mediese dokters, geestelike beraders, maatskaplike of emosionele werkers, selfs skoonheidwenke ens – veral as die tyd waarin ons nou leef in ag geneem word.
‘n Positiewe gesindheid lei tot ‘n positiewe ingesteldheid. Ongelukkig is die teenoorgestelde ook waar. Gebruik die ‘ink-wapen’ tot voordeel.
Opregte seënwense.
Baie dankie vir u terugvoering. Ons sal beslis daaraan aandag gee sodra dinge weer na ‘normaal’ begin terugkeer en ons weer teen volle sterkte kan funksioneer. – Red.



