Wat is ons nuwe normaal?
Hoe lank moet ek nog ’n masker dra en koes en keer vir sosiale afstand, veral in besige winkels? Inperking is glad nie lekker nie.
• Corrie Louw skryf:
Gegewe al die eksterne faktore oftewel omringende omstandighede, ook hier in Randfonterin, is daar op die oog af min rede om positief of pragmaties te bly dink en jou lewe in te rig. Ja, daar is maar min om oor opgewonde te raak in 2021.
Gaan die munisipaliteit byvoorbeeld ooit bykom met dienste en slaggate opvul? Wanneer sal my kerk eendag ongehinderd kan voortgaan met eredienste? Hoe lank moet ek nog ’n masker dra en koes en keer vir sosiale afstand, veral in besige winkels? Inperking is glad nie lekker nie.
’n Onlangse radiopraatjie het my gedagtes aan die gang gesit. Begin by jouself, dink en doen positief en pragmaties. Net jyself kan dit doen, nie ’n berader of iemand anders nie. Tel jou seëninge een vir een, ook die kleineres. Sien en soek in die inperkingstyd ’n nuwe geleentheid of geleenthede, ’n nuwe normaal. Mens kan byvoorbeeld sê keer terug na die aarde, plant ’n blommetjie of iets. As plantjies reeds groei gee ’n paar vir ander. Gaan maak ’n draai by die bure wat jy glad nie geken het nie. Vorm ’n groepie en gaan maak die strate skoon.
Om terug te sit of te lê, jouself jammer te kry en dalk in ’n diep, donker gat te verval gaan net mooi niks help nie. Kontak lank vergete familie en vriende. Wees goed vir die naaste, wie dit ook al mag wees. Steek ’n kers aan en verras jou geliefde met ’n blom uit die tuin.
Stof daardie ou stokperdjie af en laat waai. Koop ’n ekstra brood en gee dit vir diegene wat sit en bedel. As hy of sy dit weggooi is mos nie jou saak nie. Sou jy vanaand jou kop kan neerlê en rustig slaap is mos een van die dinge wat rêrig saak maak.
Ons kan niks verander aan die feit dat Covid nog vir ’n geruime tyd met ons sal wees nie. Niks. Aanvaar gelate dat die medici en kundiges besig is om aan die saak te werk.
Stop om vingers te wys na die blikskottels wat nie maskers dra of afstande handhaaf nie. Die een of ander tyd sal óf die gereg óf die siekte of eie gesonde verstand diegene inhaal. Doen jy self net jou eie regte ding soos ’n gehoorsame burger.
Kom ons stel vir onsself hier in Randfontein ’n eie nuwe normaal, nuwe lewensprosedures en roetines, en stap die wêreld in met ‘n glimlag. Dit kan mos gedoen word sonder om noodwendig jou persoonlikheid te verander. Al wat nodig is, is klein verstellings hier en daar. Dink asof niks daarbuite aangaan nie. En les bes, bly glo, glo in Hom of Haar, wie dit ook al in jou persepsie mag wees. En, as ons weer sien is die sogenaamde storm daarbuite verby.



