Teine gereed vir groot rugby
Randfontein Rugbyklub is nie net gereed om kragte teen Wanderers te meet nie, maar sien uit daarna om die Transvaal en Natal dames rugbyspanne by die klub in aksie te sien.

Randfontein Rugbyklub sien baie daarna uit om die Transvaal en Natal vrouerugbyspanne by die klub te verwelkom wanneer hulle op 6 Julie teen mekaar gaan kragte meet.
Behalwe vir die groot nasionale wedstryd tussen dié twee spanne, sal Randfontein rugbyklub tydens die geleentheid teen Wanderers kragte meet as deel van hul Predator Liga poelwedstryde.
Na die Teine se groot nederlaag teen die Universiteit van Potchefstroom, is Teine vasbeslote om tydens hul kragmeting teen Wonderers reg te maak.
Volgens die skakelbeampte van Randfontein Rugbyklub, Willie Hunter, het die Teine en Wonderers laas in 2011 kragte gemeet.
“Tydens ons laaste kragmeting teen Wonderers het die Teine met gemak die kragmeting gewen en ek glo dat die manne weer vanjaar die selfde resultate verwag,” vertel Willie.
Volgens die vise-voorsitter van dié klub se jeugrugby, Hildé Cneut, sal verskeie van die jeugrugbyspanne ook tydens die geleentheid in ‘n vriendskaplike wedstryd op die veld uitdraf.
“Ons beplan om ‘n groot dag van die geleentheid te maak.
“Daar sal vir die jongklomp springkastele gereël word en almal teenwoordig kan aan heerlike kos smul terwyl hulle hul tuisspanne ondersteun,” vertel Hildé.
Die bestuur van Randfontein Rugbyklub doen ‘n beroep op die gemeenskap om die geleentheid by te woon en hul dorp se spanne asook die dames spanne te kom ondersteun.
Toegang beloop R10 per persoon.
“Die toegangsgelde sal jou dan ook die kans bied om verskeie losie kaartjies vir ‘n Lions wedstryd te wen,” vertel Hildé.
Vir meer inligting rondom die geleentheid, skakel gerus vir Willie by 082 335 7348 of Hildé by 074 444 8310.