Teine vaar goed teen Wanderers
Randfontein Rugbyklub wys hul staal tydens hul kragmeting teen Wanderers.

Randfontein Rugbyklub het op 6 Julie teen die manne van Wanderers Rugbyklub te staan gekom en hulself goed van hul taak tydens dié kragmeting gekwyt.
Volgens die media skakelbeampte vir Randfontein Rugbyklub, Hildé Cneut, het die Teine baie goed gevaar.
Die eerstespanne het na 80 minute gelykop geïndig met ‘n telling van 34 elk.
“Randfontein was met die aanbreek van halftyd agter op punte en moes die tweede helfde met slegs 14 spelers aanpak, aangesien een van Randfontein se voorspelers met ‘n rooikaart van die veld af is,” vertel Hildé.
Randfontein het goed teruggekom en ‘n minuut voor die eindfluitjie met ‘n telling van 34-27 voorgeloop, maar ongelukkig in die laaste sekondes van die wedstryd ‘n drie afgestaan wat sake gelyk gemaak het.
Tydens die ander wedstryde op die dag het Randfontein se tweedespan met ‘n telling van 30-26 verloor.
Teine se derde span het met ‘n telling van 14-5 geseevier, terwyl die o.21 manne van Randfontein met ‘n telling van 7-5 gewen het.
“Die o.19 span het puik gevaar en met die aanbreek van halftyd met ‘n telling van 31-0 voorgeloop.
“Die wedstryd is na die eerste helfde gestop,” vertel Hildé.
Behalwe vir die puik rugby wat tussen Randfontein en Wanderers gespeel is, het Randfontein Rugbyklub ook tydens die byeenkoms die geleentheid gehad om ‘n provinsiale vrouerugbywedstryd op hul velde aan te bied.
Dié wedstryd was tussen die Goue Leeus Vroue Rugbyspan en die vroue van Natal Sharks.
Die Sharks het van die afskop af ‘n reuse oorhand geniet en het die Leeus vroue met geen antwoorde gelaat nie.
Na 80 minute van puik spel deur die Sharks, moes die Leeus vroue teleurgesteld van die veld af draf.
Die eindtelling tussen dié twee spanne was 81-3 in die Sharks se guns.