Chris Rossouw wen Bestmeb Jock
Chris Rossouw nael vir die derde agtereenvolgende jaar eerste oor die wenstreep by die Bestmed Jock.

Chris Rossouw het die afgelope jaar puik gevaar in elke fietswedren wat hy aangepak het, maar is werklik trots om vir die derde agtereenvolgende jaar die Bestmed Jock te wen.
Volgens Chris is die Bestmed Jock ‘n 150 kilometer wedren wat uit drie fases bestaan.
Al drie dié fases word in een dag afgelê.
“Die wedren staan as die moeilikste padfietswedren in die land bekend,” sê Chris.
“Ons het vanjaar vanaf Nelspruit via Witrivier, en Sabie oor die Longtom pas terug na Nelspruit gery, met meer as 2500m vertikale bergklim.”
Die wedren het op Saterdag 20 Julie plaasgevind en ongeveer 1 000 deelnemers het in hul verskillende ouderdomsgroepe deelgeneem.
“Chris het in die 60-jaar en ouer groep deelgeneem en die wedren vir die derde agtereenvolgende jaar gewen.
“Dit was ‘n baie harde wedren.
“Ons het in baie koue weer begin en later weer in warm weer geëindig,” vertel Chris.
Hy vertel verder dat hy uitgenooi is om op 17 Augustus aan die langste een-dag-bergfietswedren in die land, die Trans Baviaans, deel te neem.
Dié wedren begin in Willomore en eindig in Jeffreysbaai (sowat 250 kilometer) en word in een dag afgelê.
“Die wedren begin om 10vm en duur deur die nag. Deelnemers het 24-uur waarin hulle die wedloop moet voltooi,” vertel Chris.
Chris is vanjaar vanplan om dié uitdagende wedren in 12 ure te voltooi.