Besighede bankvas agter Riebeeck-rugby
Hoërskool Riebeeckrand se eersterugbyspan het reeds twee uit hul eerste drie wedstryde in die NWU 16-sportreeks gewen.
Hoërskool Riebeeckrand se rugbyseisoen is reeds volstoom aan die gang en verskeie besighede in Randfontein staan bankvas agter hulle.
Vanjaar kompeteer hulle in die NWU 16-sportreeks en hulle vaar tot dusver uitstekend.
“Die skool se eersterugbyspan het reeds drie wedstryde gespeel waarvan hulle twee gewen het. Hul wentellings teen Hoërskool Overvaal en Hoërskool Bekker was in albei gevalle 26–12 en hul wedstryd teen Leeuwenhof Akademie het hulle net-net verloor,” het skoolwoordvoerder Elzeri Wright gesê.
“Die seuns sien daarna uit om die reeks na die skoolvakansie te hervat, maar vir eers is die seniorrugbyspanne in Mosselbaai vir hul rugbytoer,” het sy gesê.
Tydens dié toer skerp hulle hul tegnieke vir die res van die seisoen op. Die seuns keer op 21 Maart terug.
Elzeri het gesê dat almal by Riebeeckrand hulle ‘n wonderlike toer toewens en dat die rugbyspelers hope herinneringe daarvan sal hê.
“Riebeeckrand is dankbaar vir al die ondersteuning van ons lojale rugbyborge van 2019. ‘n Spesiale dankie aan Mapogo A Mathamaga Randfontein, Dura Trailers en Lensley Boerdery waarop ons altyd kan staatmaak vir borgskappe,” het sy bygevoeg.




