Jannas-juniors speel puik rugby
Jannas se Spartans, Bulldogs en Vikings het in die Superreeks gewys hoe dié spel behoorlik gespeel word.
Hoërskool Jan Viljoen (Jannas) staan bekend as ‘n uitmuntende rugbyskool.
Vanjaar stel Jannas se jong rygbyspelers weereens nie teleur nie.
“Jannas se rugby is baie gesond. Die Spartans (o.14) stapel baie groot tellings teen groot skole op. Hulle het 69–0 teen Hoërskool Linden gewen en Hoërskool Brandwag met 54–0 geklop,” het Tammy Smith, skoolwoordvoerder gesê.

Die Bulldogs (o.15) se spelers was in 2018 die o.14 Goue Leeus-wenners. Hulle het onlangs vir Hoërskool Linden met 22–8 gewen en vir Hoërskool Brandwag met 10–8. Daar was ook ‘n taai wedstryd tussen hulle en Vereeniging Gimnasium, maar hulle het met ‘n puntetelling van 15–8 as wenners uit die stryd getree.
“Die Vikings (o.16) was vir meeste van die Superreeks onoorwonne. Hulle het Hoërskool Brandwag 17–15 gekop en vir Vereeniging Gimnasium met 31–19 gewen. Hulle het ook vir Hoërskool Wagpos ore aangesit en hulle met 27–5 gewen,” het Tammy gesê.
Sy het bygevoeg dat die skool baie trots is op al die rugbyspanne en dat hulle nie kan wag vir die liga wat voorlê nie. Die Spartans en Bulldogs was albei onlangs onder SA Skoolsport se Top 100-rugbyspanne.
“Op 12 April was die Spartans 31ste op dié lys en op 11 April was die Bulldogs 55ste. Dis ‘n baie groot eer en dit getuig van hoe goed ons rugby hierdie jaar is,” het sy gesê.




