Local MotoringMotoringSport

Roelf steek motorsport-wêreld aan die brand

Vir meer as die helfte van sy lewe klop Roelf du Plessis se hart net vir vinnige karre – iets wat hy nie sommer gaan opgee nie.

Roelf du Plessis leef voluit – of dit nou in sy persoonlike of sakelewe is, solank dit net in ’n vinnige kar soos ‘n McLaren GT3 is.

Dit is juis as gevolg van hierdie einste resiesmotor dat hy na die eerste ses rondtes van die SA GT Racing-toernooi nogsteeds die telbord oorheers.

Die 62-jarige is gebore en getoë in Randfontein en het as jong seun by die Ben Morgenrood-span aangesluit waar hy aan wedrenne bekendgestel is. Hy het toe begin hotrods ry en later oorbeweeg na groot baanwedrenne waar hy ‘n borgskap deur Ben Morgenrood en Mazda gekry het.

Die McLaren GT V8 Twin Turbo waarmee hy deesdae jaag. Foto verskaf.

In 1996 het hy oorgeskuif na die V8 Superkar-klas en het drie keer die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe gewen. In 2000 het hy die nasionale kampioenskappe in hierdie klas gewen en was ook die ‘millenniumkampioen’. Hy het daardie selfde jaar die titel by Sarel van der Merwe gevat en as ‘n teken van respek het Sarel sy oorpak, helm en handskoene vir Roelf gegee. Dié helm is die een waarmee Sarel die 24 Hours of Le Mans gewen het.

Roelf ry ook V8 sprintkarre op ovaalbane en in sy eerste jaar van dié tipe wedrenne het hy tweede in die nasionale kampioenskappe geëindig. Hy het in daardie jaar voorgeloop maar in die laaste wedren ongelukkig verloor.

Nou ry hy vir Ultimate Outdoors en as ‘n span loop hy en sy spanmaats Izak Spies en Stephen du Plessis met 73 punte voor by die nasionale kampioenskappe. Met die individuele kampioenskappe in dié reeks loop hy voor in die GTO-afdeling. Die jaar is die eerste keer wat hy aan die kampioenskap deelneem en van die ses wedrenne wat hy daar gery het, het hy vyf gewen en met een tweede geëindig.

Roelf du Plessis by een van sy resies. Foto verskaf.

Roelf het in sy loopbaan die podium al 200 keer bereik.

Vir die 10 jaar wat Roelf by Ben Morgenrood gewerk het, het hy sy ambag klaargemaak en toe sy eie paneelklop besigheid op die ouderdom van 26 begin. Hy het afgetree toe hy 55 was en ding nogsteeds mee in motorsport met die McLaren en V8 fuelers.

Na skool het hy nie juis gedink dit is iets wat hy voluit sou wou doen nie en het baie van die sport by sy mentor, Ben, geleer. As deel van sy werk moes hy altyd uithelp by wedrenne en dit is waar die gogga hom gebyt het. Daar is gesê Roelf sal betrokke wees by motorsport solank hy nog wen en mededingend is.

Ben het my geleer en onder sy vlerk geneem. Hy het selfs toe ek my besigheid begin het elke Vrydag kom kyk hoe dit gaan,” het Roelf gesê.

Die sport het hom ook al oral geneem – het hy selfs al in die wêreldfinaal van die V8 Superkar-klas in Las Vegas deelgeneem.

Oor motorsport het Roelf gesê dit gaan nie net oor spoed nie, maar jou tegniek. Dit was ook nie altyd maanskyn en rose op die renbaan vir Roelf nie en wie al in drie lelike ongelukke betrokke was. In die eerste ongeluk het die voertuig, met hom binne-in, aan die brand geslaan.

Dis die V8 SSprint 900 HP. Foto verskaf.

“Hulle kon my nie vinnig genoeg uitkry nie en ek het daardie dag my snor, ooghare en kar verloor,” het hy gesê.

Die tweede ongeluk was toe hy sy hand gebreek het en die derde een was op Kyalami. Daar het hy sy rug gebreek maar wel aangegaan om later die jaar die kampioenskap te wen. Vandat hy begin het tot nou toe is dit die tegnologie in voertuie wat vir hom die meeste verander het. Roelf stel voor dat renjaers gereeld moet oefen sodat hulle hul voertuie binne en buite kan leer ken.

Vandag wil Roelf sy kennis oordra aan ander jong renjaers. Hy het selfs ‘n bestuurskool geopen waar hy jonges opleiding gee.

Jy kan vir Roelf en sy span op 20 en 21 Oktober by Zwartkops in aksie sien.

Related Articles

Back to top button