RandMark! Waar die naweek op ‘n Donderdagaand begin
RandMark gebruik hul 40e bestaansjaar om geleentheid te skep vir gemeenskapsamekoms.

Die Ranfontein Maraton Klub, beter bekend as RandMark, vier vanjaar hul 40e bestaansjaar en lede gaan op 4 November met trots bymekaarkom om terug te kyk na kosbare herinneringe.
RandMark is in Julie 1983 gestig deur Jan en Judi Meyer, Chris en Aida Harmse, Christo Hammes, Nick Cilliers, Tok en Susan Niemand, Piet en Nelia van der Westhuisen en dr Ockie Dupper. In daardie tyd moes Randfontein-atlete na Krugersdorp gaan om tydtoetse vir hul oefeninge te kry omdat daar nie enige klubs in Randfontein beskikbaar was nie. Jan vertel hoe sy vrou, Judi, destyds ‘n joernalis by die Randfontein Herald was en dat Judi ‘n kennis van die wyle Cliff Buchler was wie groot voetspore in Caxton Local Media getrap het. Buchler het daardie tyd toe ‘n wedloop voorgestel vir atlete vanaf die Greenhills Stadion na die Bob van Renen Stadion in Krugersdorp. Die wedloop was toe gesamentlik geborg deur die Herald en Krugersdorp News.

Jan en die ander lede wou die wedloop aan die gemeenskap bied, maar die Transvaal Amateur Atletiek Unie (TAAAU) het die stigters in kennis gestel dat hulle slegs wedlope mag aanbied indien hulle deel van ‘n klub is. Die atlete het ‘n groot begeerte gehad om hul eie klub te stig. In daardie geval was daar ‘n besluit geneem om ‘n klub te stig en binne die eerste drie maande van die klub se bestaan was ‘n 16km wedloop aangebied waar atlete van een stadsaal na ‘n ander stadsaal gestap het.
Die naam RandMark is deur Tok voorgestel. Rand staan vir Randfontein, Mar vir Marathon en die ‘k’ vir klub. Die klub bied drie dissipline vir hul lede aan naamlik hardloop, fietsry en stap.
“In 1983 het ons nog in Krugersdorp-klere die Comrades aangepak,” vertel Jan, wie ook ‘n lewenslange erelid is wat tans in Amerika woon. Jan voeg by dat hy 20 Comrades onder die belt het, wat huidiglik die meeste Comrades is wat enigiemand ooit in die klub voltooi het. Nico Smit, nog ‘n lid van die klub, spog met ‘n trotse rekord deur nog elke liewe 947 fietswedren tot op hede te voltooi.
Binne die eerste drie maande van die klub se bestaan het ongeveer 50 lede reeds aangesluit. Dr Dupper het selfs aansoekvorms van die klub vir sy pasiënte uitgedeel terwyl hy gepraktiseer het. RandMark het huidiglik ongeveer 60 lede waarvan die ouderdomsgroepe tussen 25 en 65 jaar wissel.

Hierdie 42 lede het reeds die fietsryklub se 40e in Julie begin vier met ‘n sop-en-sjerrie aand. Na die aand se byeenkoms het die klub ook ‘n rugbyoggend aangebied. Om die 40e bestaansjaar nog verder te vier het RandMark-lede op 22 Julie die strate ingevaar en daar was 21km fietsgery, gestap en gehardloop. Die lede wat deelgeneem het aan die fietsry-aktiwiteit het ‘n prentjie van RandMark se naam met ‘n globaleposisioneringstelsel (GPS) geteken om die klub se 40e herdenking te vier. Lede wat gedraf het, het ‘n nommer 40 op die perseel in die grond ingetrap. Hierdie geleentheid was slegs ‘n toetslopie vir die geleentheid wat op 4 November gaan plaasvind.

Daarna was daar gevier met ‘n braai en soetsappige koek. Alhoewel die oggend bitter koud was het lede steeds beweer dat hierdie geleentheid uitnemende aktiwiteite behels het. Die feesviering hou beslis nie hier op nie.
Op 4 November beplan die lede om die 40e herdenking saam met die inwoners van die dorp te vier om te wys dat RandMark ‘n klub vir familie en vriende is. RandMark wil graag gesinne help om die Comrades of die 947 Ride Joburg wedren uit te voer, dus vra RandMark dat almal wat deel wil neem, die 4de November op hulle kalenders moet oophou. Lede kan hardloop, stap, fietsry, of selfs al drie doen. Die fietsry en bergfiets lede gaan RandMark op GPS of Strava spel, terwyl die lede wat draf en loop die nommer 40 gaan uitskryf. Hierdie geleentheid sal begin op die hoek van Noordweg en Homesteadlaan. Kyk gerus uit vir ‘n advertensie in volgende week se Herald en 3 November uitgawe.

Elke Donderdag is ‘n sosiale byeenkoms vir die lede van RandMark en natuurlik word dit beskou as iets om te beleef.
“Dit is ‘n familie klub – of jy nou stap of fietsry, jy is deel van ‘n familie,” vertel Lizeth Rowan. Sy voeg by dat lojale lede steeds hul lidmaatskapgelde betaal al woon hulle nie eers meer in Suid-Afrika nie. Sy lewer kommentaar oor iemand wat eens ‘n lid was wat huidiglik in Nieu-Seeland bly. Hierdie persoon betaal vir meer as 10 jaar lank om steeds deel te wees van RandMark.
“Ek het al baie gesê dat RandMark my vierde kind is,” het Jan gesê. Jan het homself op ‘n stadium gevra wat hy op Donderdae sal doen as hy nie besig is met RandMark nie.

Paul Kotze vertel ook dat Jan vir ‘n tydjie die klub bestuur het en alle situasies met ‘n ystervuis kon hanteer.
RandMark se geskiedenis strek vanaf die 1980s en die klub was heelwat betrokke by korporatiewe aflosse waar hulle oorgeepunte beman het. RandMark het verder ook geskiedenis gemaak tydens die Suid-Afrikaanse Spele in 1986 toe vyf atlete vanaf die Randfontein stadsaal na Ellispark gedraf het. Tydens hierdie wedloop het Fanie van Zyl, ‘n Springbok-atleet, ‘n fakkel in die stadion aangesteek. Dit het RandMark ‘n kans gegee om vele meer te doen.

Baan, velde, en landloop-afdelings was baie aktief en dit is hier waar baie atlete hul provinsiale klere verwerf het. RandMark spog ook met verskeie atlete wat lid was van RandMark wat aan die 100 myl wedlope deelgeneem het. Hierdie RandMark-atlete het in ‘n klomp wedlope eerste plek behaal.
Ongeveer 3 000 atlete het die Oujaarsdag Fanie van Zijl nagwedloop bygewoon en hierdie geleentheid was ook gereël deur RandMark. ‘n Ander geleentheid naamlik die Kenny Jacobs 15km nagwedloop, was gereël tydens die jaarlikse Randfontein Skou.

In die 2000’s met die nuwe millennium het RandMark ‘n indrukwekkende 90 lede gehad wat Comrades gehardloop het – die meeste nog.
RandMark was een van die top vyf klubs in Gauteng waar die meeste Comrades-atlete ingeskryf het. Julanie Basson, Jan se dogter, was een van die atlete wat haar wedloop loopbaan by RandMark begin het. Sy het later goud in die Comrades losgehardloop. Hierdie prestasie het ‘n sin van trots onder lede van die klub ontwikkel.

Die fietsryklub deel graag die geskiedenis se prestasies. RandMark het vir drie jaar fietsryspanne na die dubbel Century (210km) in Swellendam gestuur en vertel ook hoe twee spanne aan die dubbel 90 (180km) in Clarens deelgeneem het. Lee Kotze, woordvoeder vir RandMark, vertel hoe aktief betrokke RandMark by fietswedrenne is.
Die klub se wyse slagspreek is soos volg, ‘We are a drinking club with a running and cycling problem’. Lede sal vertel dat RandMark die plek is waar jy as vreemdelinge instap en familielid uitstap.