947 Ride Joburg: RandMark vat dit ‘n trap verder
RandMark-lede het dit 'n trappie verder gevat tydens vanjaar se 947 Ride Joburg-wedren.

Talle lede van RandMark het onlangs die 947 Ride Joburg aangepak vir ‘n goeie doel.
Alhoewel die afstand gewoonlik 94.7km is, het RandMark dit letterlik ‘n trappie verder gevat en besluit om 98km af te lê. ‘n Totaal van 27 lede het op 19 November met hul fietse by die FNB Stadion bymekaargekom en dit het hulle toe minder as agt ure geneem om die afstand te voltooi.
Volgens Lizeth Rowan van die klub was die doel om vir mense met veelvuldige sklerose te ry. Die geld wat ingesamel was tydens die wedren het dus gegaan vir die veelvuldige sklerose fonds.
Nico Smit, nog ‘n lid van die klub, spog met ‘n trotse rekord deur nog elke liewe 947 fietswedren tot op hede te voltooi. Hy het vanjaar weer so gemaak en het dus 27 onder sy belt.
Die deel van die wedren wat Lizeth die meeste geniet het was die eerste 60km asook die Kyalami-baan.
“Ek glo hierdie wedren is ‘n persoonlike uitsondering wat jy vir jouself stel. Dalk wil jy jou tyd verbeter of net ry vir ‘n doel. RandMark het die wedren bygewoon as ‘n groep en familie en ek glo daarom was dit die moeite werd,” sê Lizeth.
Volgens Lizeth was die grootste uitdaging vir lede die hitte.
“Hitte het veral die laaste 40km van die wedren moeilik gemaak maar ons het vasgebyt. Almal behalwe een lid kon ongelukkig nie die wedren voltooi nie. Nietemin het ons na die wedren lekker saam gekuier, ‘n yskoue bier oopgemaak en ‘n boereworsrolletjie geniet. Elke persoon het toe die kans aangegryp om hul ervaring met ander te deel.”
Volgende jaar maak RandMark weer so.