Greenhills Ringbalklub vuur en vlam
Gesoute speler en afrigter van die Greenhills Ringbalklub praat oor die sport, seisoen en meer.
Die Greenhills Ringbalklub is vuur en vlam vir 2024.
Die seisoen het reeds afgeskop vir die senior vroue- en manspan. Die klub spog ook met ‘n senior, veteraan, meester asook ‘n junior span.
Die 57-jarige Angelique Marè, huidige afrigter en spanbestuurder vir die junior span, het haar ringbalpassie begin uitleef op die ouderdom van 10. Sy vertel dat ringbal daardie tyd as korfbal bekendgestaan het. Angelique het vir 35 jaar lank die sport geniet voordat sy moes ophou speel as gevolg van ‘n besering.
Angelique het in 2020 teruggekeer na die klub as afrigter en spanbestuurder. Tydens haar ringballoopbaan het Angelique SA-klere verwerf as beide speler en spanbestuurder. In 2022 was Angelique die spanbestuurder vir die Wes-Rand Senior Dames A-span tydens die Suid-Afrikaanse Ringbal Kampioenskappe en sy was kort daarna gekies as spanbestuurder vir die Suid-Afrikaanse o20-vrouespan. In 2023 het sy op die junior span begin fokus en was die spanbestuurder vir die Wes-Rand meisies se o11-span.

“Omrede ek al 40 jaar met ringbal te doen het, eers as speler waar ek SA-klere verwerf het, en nou as afrigter, hou ek daarvan om jong kinders van die begin af te leer speel en die basiese dinge van die sport te leer en hulle dan te sien groei soos wat hulle meer selfvertroue met die bal en die reëls kry,” vertel Angelique.
Volgens Angelique is ringbal ‘n onbekende sport teenoor netbal wat meer bekend is. Daarom, vertel sy, wil meeste mense ringbal nie ‘n kans gee nie.
“Ringbal kan ook net in die aand geoefen word en vir die rede sukkel die sport om junior spelers te kry aangesien meeste ouers nie in die weer wil ry of die kinders laat die aand laat oefen nie.
“Ringbal is n sport waaraan die hele gesin kan deelneem, oud en jonk, man en vrou. Tot ouma en oupa kan speel. Indien jy nie self kan speel nie, is daar altyd spanbestuurs en administrateurs nodig,” verduidelik Angelique.



