Sport

Teine-eerste span terug op wenpad in Witbank

Randfontein Rugbyklub se eerste span, tweede span, vierde span en o21's spog met oorwinnings weg van die huis af.

Randfontein Rugbyklub se eerste span is terug op die wenpad na ‘n spog 21–18 sege oor Witbank weg van die huis af.

Op 13 April was al vyf spanne van Teine weer in aksie teen verskillende opponente ter voorbereiding vir die Pirates Groot Uitdaagreeks. Vir die eerste span was die drie-punt oorwinning belangrik om selfvertroue op te bou. Franco Tiedt, Rudi Marx en Jaco Vewas het almal een drie gedruk terwyl Janco Tiedt met twee doelskoppe geslaag het.

Louis Smit van die eerste span teen Witbank. Foto: Ryan Keller.

Teine se derdespan het ongelukkig teen dieselfde opponent 26–19 verloor.

Die tweede span het teen Knights Sportklub kragte gemeet en ses drieë gedruk vir ‘n gemaklike 38–17 oorwinning. Die vierde span het ook puik gespeel om 21–17 te seëvier, ook teen Knights.

Teine eerste span se Rudi Marx duik oor die doellyn vir sy drie. Foto: Ryan Keller.

Wat die juniors aanbetref het Teine se o19’s die knie gebuig teen Rustenburg Impala met ‘n telling van 24–3 maar die o21’s het vergoed om 21–17 met Pretoria Knights Sportsklub af te reken.

Louis Smit duik ‘n opponent in hul kragmeting teen Witbank. Foto: Ryan Keller.

Randfontein Rugbyklub se eerste en tweede spanne sal op 20 April teen Witrivier kragte meet. Dit is die laaste vriendskaplike wedstryd voordat die Pirates-liga afskop die week daarna met Teine wat vir Wits weg van die huis af aanpak.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button