Sport

Gr 7-leerder DOELbewus op koers

Du-Anique Griffiths se prestasies oorweldig die netbalgemeenskap met trots.

Du-Anique Griffiths het vanjaar diep spore in die netbalwêreld getrap as ‘n leerder van Laerskool Rapportryer.

Volgens skoolwoordvoerder Celeste Wentzel is Du-Anique, ‘n aanvallende vleuel, gekies om in die Gauteng Netbalspan te speel.

Du-Anique verwerf dus ereklere vir hierdie prestasie en verteenwoordig die Rappies eerste span waar sy verkies is tot kaptein.

“Alhoewel Du-Anique die kleinste in die span is, het sy beslis die meeste veerkrag en jy gaan ver moet soek om iemand flinker op die netbalbaan te kry,” het afrigter Mariska van der Merwe verklaar.

Celeste het verder vertel dat Rapportryer opgewonde is oor wat die toekoms vir Du-Anique as netbalspeler inhou. Sy beskryf Du-Anique graag as ‘n ‘Protea in the making’.

Ma Nicolene Griffiths het vertel sy het besef dat haar dogter ‘n passie vir netbal het nadat sy opgewonde was om oefening en wedstryde by te woon. Volgens haar het Du-Anique self in haar vrye tyd netbal beoefen.

“Een van die mooiste oomblikke was toe sy haar eerste groot wedstryd gewen het. Die opwinding en vreugde op haar gesig was onbeskryflik. Dit was ‘n trotse oomblik om te sien hoe haar harde werk vrugte afwerp,” het Nicolene beweer.

“Die belangrikste les wat ek as mamma geleer het, is dat elke kind uniek is en dat dit belangrik is om hulle te ondersteun op hul eie manier. Dit is nie nodig om te veel druk te plaas nie. Dit is belangrik om hulle passie en entoesiasme te bevorder.”

Related Articles

 
Back to top button