Ontmoet-‘n-Teine-Boytjie: Dylan Viviers
Dylan Viviers, linkervleuel van Teine se tweede span, stel homself aan die gemeenskap voor in die Ontmoet-'n-Teine-Boytjie-reeks.
Party rugbyafrigters en kenners is behep oor spelers se grootte. Ander sien dit nou weer as ‘n goeie geleentheid om aan te gryp.
Een so voorbeeld is Rassie Erasmus wat nie bang is om die spoedvrate Kurt-Lee Arendse, Cheslin Kolbe, Grant Williams en Kwagga Smith (om net ‘n paar te noem) heel eerste op sy spanlys neer te pen en los te laat nie.
Dylan Viviers (22) van Randfontein Rugbyklub se tweede span is een so ‘n speler wat glad nie toelaat dat sy grootte hom terughou om sy doelwitte op die rugbyveld te bereik nie.
As linkervleuel is Dylan al 12 jaar lank lojaal aan Teine en getrou op sy pos.
Sy passie vir die sport het ontwikkel nadat sy ouers vir hom sy eerste rugbybal gekoop het. Nadat hy en sy broer in die agtererf begin saam speel, het hy geweet hy wil presteer in die sport.
Op die ouderdom van vyf het Dylan ernstig begin rugby speel en is steeds aan die gang. Tydens sy skooljare was Dylan gekies vir ‘n rugbytoer na Argentinië asook om sewes te speel in Dubai en Mauritius.
Op die ouderdom van 19 was Dylan gekies om vir die Teine se eerste span te speel en in 2021 was hy gekroon as Beste Agterspeler van die Jaar. In 2022 was hy as kaptein gekies vir Teine se o20-span wat onoorwonne was gedurende die seisoen. In 2023 het hy die rekord verbeter deur 34 drieë te druk. Hy spog ook met die titel van Beste Rugbyspeler van die Jaar vir agt agtereenvolgende jare.
Hy vind saligheid in die broerderskap van die span. Sy rolmodel is niemand anders as sy pa nie.
Dylan het vertel dat hy redelik kleiner is as die res van sy spanmaats maar dit keer hom nie om te presteer nie.
“As grootte saak gemaak het, sou die olifant die koning van die oerwoud gewees het,” het Dylan afgesluit.