Pirates Groot Uitdaagreeks: Teine te goed vir Wanderers
Teine pak nou NWU-Pukke volgende op 24 Augustus nadat hulle gemaklik met Wanderers afgereken het.
Randfontein Rugbyklub het koning gekraai teen Wanderers in sy jongste kragmeting in die Castle Lager Pirates Groot Uitdaagreeks.
Vir Teine was dit ‘n goeie dag op kantoor en die klub spog met vier oorwinnings en een gelykop.

Die spanning was natuurlik hoog en die pawiljoene was vroeg gepak vir die eerste wedstryd tussen Teine se o19’s en Wanderers. Die jong manne van Teine was witwarm en het sewe drieë gedruk vir ‘n wegholoorwinning van 45-0.

Teine se o21’s moes wel swoeg en sweet vir ‘n naelbytsege van 22–21.
Teine se derde span het ook nie teleurgestel nie en het vier drieë gedruk om gemaklik 32–19 te wen.

Die kragmeting tussen die tweede spanne het wel toeskouers op hul tone gehad en soos hulle sê ‘n gelykopuitslag is so goed soos om jou suster te soen. Die telbord het 29–elk gelees toe die eindfluitjie blaas.

Weereens was daar geen keer aan Teine se eerste span wat ses keer hul opponent se doellyn oorgesteek het om met ‘n lopie 38–10 te wen.

Die eerste drie is gedruk deur Senzo Hlatshwayo terwyl Itu Mpete en Rudi Marx albei twee drieë verseker het. Renaldo Visser het die laaste drie gedruk. Janco Tiedt het met een doelskop en twee strafskoppe geslaag.
Teine pak volgende vir NWU Pukke op 24 Augustus.



