Rugby is in Darien se bloed
Darien Heyns is gebore met 'n rugbybal in sy hand en beplan hy om groot naam te maak by Teine.
Darien Heyns (30) het rugby in sy bloed en streef hy daarna om sy passie in die sport na te jaag.
Die inwoner van Greenhills is ‘n veelsydige agterspeler wat gemaklik is op heelagter en losskakel. Hy het vertel dat sy rugbypassie op die vroeë ouderdom van vyf begin het. Sy pa het ook heelagter vir die Goue Leeus gespeel wie dan later rugby by verskeie skole afgerig het. Dit was Darien se pa wat hom aan die sport voorgestel het maar Darien glo rugby is in hul gene.
In 2011 en 2012 het Darien aan die Craven Beker deelgeneem asook die Goue Beker. Hy neem huidiglik deel aan Randfontein Rugbyklub se proewe.
“Rugby is ‘n baie goeie spansport en dit is ‘n guldige geleentheid om nuwe vriende te maak. ‘n Mens kan amper sê jou span word soos ‘n tweede familie,” het hy uitgedruk.
Sy grootste motivering is om beter rugby te speel en om minder beserings op te doen. Hy het ook groot doelwitte vir die toekoms, insluitend om vir ‘n goeie rugbyklub te speel en raakgesien te word. Hy wil ook graag naam maak in die liga.
Darien is nie net ‘n rugbyliefhebber nie maar geniet hy ook ander sportsoorte soos swem, aksiekrieket en oefeninge in die gimnasium.
“As jy goeie rugby wil speel, moet jy goeie uithouvermoë hê. Ek wil graag dankie sê vir die Here. Hy het vir my hierdie talente gegee om uit te leef. Ook wil ek dankie sê vir my ondersteuners.”



