Ruiterkuns is 16-jarige se kos
’n 16-jarige ruiter van Randpoort en haar perd, Hensons Anja, kan met hul prestasies spog.
Lenthe Maré is ernstig oor perdesport en het die afgelope tyd baie prestasies behaal.
Die 16-jarige ruiter beskryf die sport as klassiek en formeel. Sy het ook verduidelik dat dit ‘n kuns is waarin jy goed met jou perd moet kommunikeer.
Sy het ook aan die South African National Equestrian Schools Association (Sanesa) en Friesian Winter Festival-kompetisie deelgeneem en uitgeblink. Tydens die Friesian Winterfees het sy ‘n vyfde plek in die Merrie (ses jaar) kategorie verower, maar sy het ook die o18 Ruiterklas gewen. Sy het ook ‘n vyfde plek behaal tydens die Strictly Come Dancing Freestyle-kompetisie.

Lenthe het toe aan die Friesian Nationals deelgeneem en derde plek gehaal. Sy het toe gekwalifiseer om aan die Senior Grootkampioen-klas deel te neem en het vyfde geëindig.
Volgens Lenthe het sy vyf jaar gelede met ‘n resiesperd begin ry. Alhoewel sy daarna haar eerste perd vir Kersfees gekry het, is die perd tragies dood. In Mei 2023 het sy haar huidige perd, Hensons Anja, gekry.
“Ek het net een oggend wakker geword en besef dat ek ‘n groot liefde vir die sport en diere het. Ek was nog altyd omring deur perde maar daardie dag het ek besluit om aan die sport deel te neem,” het Lenthe gesê.
“Die mense en my perd motiveer my om aan te hou wanneer dinge moeilik is. Ek geniet die pronkrondte ná ‘n oorwinning die meeste,” het sy opgewonde gesê.
Sy het verder raad gegee aan diegene wat aan ruiterkuns wil deelneem.
“Moenie oorhaastig wees nie. Dit gaan baie tyd en harde oefening verg om die sport te bemeester. Jy moet daarvan hou om dit ‘n sukses te maak. Doen net jou bes en God sal vir die res voorsien,” het sy uitgespreek.
Sy het afgesluit deur haar afrigter, Shelly de Beer, te bedank.



