Drie uit drie vir Teine in Centurion, nou wag die liga
Randfontein Rugbyklub het hul laaste vriendskaplike wedstryd op 'n wennoot afgesluit en sal met groot selfvertroue die liga op 29 Maart afskop.
Randfontein Rugbyklub het die afgelope naweek vir Centurion Rugbyklub aangedurf en oorheers.
• Lees ook: Teine eerstes en o19’s baas in Sasolburg
Die eerste span het sewe drieë gedruk en gemaklik met 47–12 geseëvier. Die driedrukkers was Dewalt Sonnekus, Ruan du Toit, Bennie Beyleveld, Steff Calitz en Janco Tiedt. Steff was suksesvol met vyf doelskoppe, terwyl Janco een oor die dwarslat gestuur het. Dewalt en Franco Tiedt is gesamentlik as Man van die Wedstryd aangewys.
Die tweede span het ook triomfeer met ‘n telling van 30–21. Hulle het vier drieë, twee doelskoppe en twee strafskoppe aangeteken. Sims Ngcutha, Diandrè Vorster, Ryan Strydom en Frikkie Delport het elk ‘n drie gedruk, met Sims wat as Man van die Wedstryd aangewys is.

Die derde span het ‘n naelbytse oorwinning van 13–12 behaal. Hulle het slegs een drie gedruk, een doelskop en twee strafskoppe aangeteken. Sifiso Miya was die driedrukker, terwyl Ewald Oberholzer die doelskop en beide strafskoppe oorgeskop het. Sy akkurate skopwerk het ‘n deurslaggewende rol gespeel en hy is as Man van die Wedstryd aangewys.

Die vrouespan het egter die onderspit gedelf en met 27–17 teen Wanderers verloor. Hulle het drie drieë gedruk, waarvan twee deur Cathrine Stacey en een deur Refilwe Mangope aangeteken is. Refilwe het ook een doelskop oorgeskop, terwyl Cathrine as Speler van die Wedstryd aangewys is.
Teine se liga skop amptelik af op 29 Maart teen Diggers Rugbyklub.






