Springbok Baits los hul merk in Oranjeville met vyf wenners
Vyf lede van Springbok Baits Sosiale Klub stap weg as wenners tydens 'n onlangse kompetisie in Oranjeville.
Lede van die Springbok Baits Sosiale Klub het op 5 Julie weer die koue getrotseer om hul geluk met die visstok te beproef.
Een van die stigterslede van die klub, Pieter Schemel, vertel dat hulle dié keer by Mihanzi Vaal Lodge naby Oranjeville gaan hengel het.

“Dit was baie koud en mistig. Dit was ’n moeilike dag, en van die 18 hengelaars het net vyf lede met visse weggestap,” het Pieter gesê.
Die klub se voorsitter, Rudie Dreyer, het die grootste vis van die dag gevang en is as die wenner aangewys.

Braam Stolz het tweede geëindig, met Kiewiet Burger in die derde plek. Jessica Dreyer het vierde gekom en terselfdertyd die spesie-afdeling gewen met ’n moddervis. André Erasmus het vyfde geëindig met een vis.



