Teine se senior spanne oorweldig Alberton
Teine se eerste, tweede en derde spanne het Randfontein trots gemaak met oortuigende seë teen Alberton Rugbyklub. Nou wag ’n laaste ligawedstryd teen Pirates voor die uitkloprondtes begin.
Al drie Teine se senior spanne het vir Alberton oorheers toe die twee klubs kragte gemeet het in ‘n Pirates Groot Uitdagreeks-ligawedstryd die afgelope naweek.
Die derde span was witwarm en het hul teenstanders met 38–0 afgeransel. Eugene Willemse, Quintin Korb, Steph Korb en Devan Viljoen het elk een drie gedruk, terwyl Desire Serelepele twee drieë bygevoeg het. Ewald Oberholzer het vier doelskoppe aangeteken en Antonie Sauederson is as Speler van die Wedstryd aangewys.
Randfontein se tweede span het ook nie teleurgestel nie en met 29–14 getriomfeer, al is die wedstryd 19 minute vroeër gestaak. Jaco Theron en Steff Calitz het elk een drie gedruk, terwyl Frikkie Delport twee gedruk het. Tiaan Nel het een doelskop aangeteken, Steff Calitz nog twee doelskoppe en ’n strafskop. Frikkie Delport is as Speler van die Wedstryd aangewys.

Die eerste span het hul ware trots gewys en Alberton met 59–10 oortuigend geklop. Errard Ernsting, Mornè Piater, Wessel van Staden, Michael Tolmay, Franco Tiedt en Tiaan Naudè het elk een drie gedruk, terwyl Rudi Marx drie drieë agter sy naam gevoeg het. Keagan Fortune het sewe doelskoppe aangeteken. Ruan du Toit en Errard Ernsting is albei as Spelers van die Wedstryd benoem.
Dit was egter ’n moeilike dag vir die juniors, met die o.19- en o.21-spanne wat onderskeidelik 22–12 en 44–12 die knie moes buig.
Die klub het Alberton bedank vir hul gasvryheid. Randfontein sal op 6 September ’n tuiswedstryd teen Pirates Rugbyklub aanbied, die laaste wedstryd voor die semifinaal en finaal van die Pirates Groot Uitdagreeks.



