Krieketster Dianey mik vir vroue Protea-span
Hoërskool Riebeeckrand-leerder, Dianey Havenga, maak geskiedenis op die krieketveld en mik vir nog hoër sterre.
Dianey Havenga (16) se toekoms lyk blink nadat sy geskiedenis gemaak het by Hoërskool Riebeeckrand as die eerste dogter om aan die provinsiale Lions-span deel te neem.
Dit is nie net dié prestasie nie – dit is ook haar tweede agtereenvolgende jaar wat sy hierdie hoogtepunt bereik. Verlede jaar het sy die Gauteng Week gewen en is as die beste kolwer tydens die week aangewys.
Onlangs het sy aan die SA20-toernooi deelgeneem en op 15 Oktober kragte gemeet teen Hoërskool Monument, waarna die span gewen het. Dianey het 105 lopies van 80 balle geslaan, die hoogste meisieskor in Riebeeckrand se geskiedenis.

Haar krieketloopbaan het drie jaar gelede begin toe sy as laerskoolmeisie belangstelling in die sport ontwikkel het.
Sy het eendag seuns sien speel en besluit om saam te speel. Volgens haar afrigter, Corne Aldridge, oefen sy nie net drie tot vier dae per week nie, maar oefen ook selfstandig aan kondisionering.
Dianey se droom is om eendag haar internasionale debuut vir die vroue Protea-span te maak.

Corne het sy trots uitgespreek en Dianey se toewyding nie net aan krieket nie, maar ook aan haar vriende en familie, beklemtoon.
“Sy is ’n spontane bol energie wat niks minder as haar alles gee nie. Sy is ’n voorloper in die span waar sy nie net haar span lei nie, maar hulle motiveer. Dianey bring ’n onmiskenbare positiwiteit in elke vertrek wat jou dag beter maak,” het Corne opgemerk.
Haar toekomswense sluit in dat sy in haar matriekjaar die Lions sal verteenwoordig, wat haar professionele loopbaan kan begin en haar die geleentheid bied om ’n Protea-speler te word.



