Fietsryvreugde in Joburg
RandMark-lede trotseer hitte en steil klimme tydens die uitdagende Ride Joburg-wedren – en keer trots huis toe ná ’n besonderse ervaring.
Byna 20 RandMark-lede het onlangs saam met duisende ander fietsryers die uitdagende Ride Joburg-wedren suksesvol voltooi.
Volgens Trudie Reid van die klub was die Ride Joburg nog altyd ’n moeilike wedren.
“Ons klim sowat 1 270m, so jou bene moet sterk wees. Die dag was baie warm, maar dit bly altyd lekker. Die hoogtepunt was om op die Kyalami-wedrenbaan te ry. Die uitdaging is Jan Smutslaan, maar die gees maak dit op die ou einde die moeite werd. Die ervaring om oor die Nelson Mandela-brug te kon ry met ’n fiets was ongelooflik!” het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat waterwaens die fietsryers natgespuit het om hulle af te koel, en dat groepe mense langs die pad gedans en musiek gespeel het om deelnemers aan te moedig.
Altesaam 18 RandMark-lede het deelgeneem. Hul voorbereiding het reeds maande gelede begin, en Trudie vertel hulle het probeer om elke Saterdag tussen 50 en 80km te ry, terwyl sommige ook deur die week 45km gery het.

Sy sê almal wat deelgeneem het, is tevrede met hul uitslae tydens die wedren.
Aan die einde van November beplan die klub om aan die Sondela Family Stage Race deel te neem – ’n driedag-wedren wat nog meer spanwerk en uithouvermoë sal verg.



