Rappies-krieketdogters berei voor om Gauteng-Wes te verteenwoordig
Afrigter Marsha Coetzer sien ’n blink toekoms vir die Laerskool Rapportryer-dogters wat gekies is om Gauteng-Wes te verteenwoordig.
Vyf dogters van Laerskool Rapportryer het groot trots gebring nadat hulle gekies is om Gauteng-Wes te verteenwoordig tydens die opkomende distrikskriekettoernooi.
Spelers van skole in Randfontein, Westonaria, Carletonville, Fochville en Krugersdorp is gekies – waarvan vyf van Rapportryer afkomstig is:
• Saskia de Beer – o10
• Caylee Groenewald – o12
• Anelri Marais – o11
• Lizerie Pretorius – o12
• Layla Williams – o12
Afrigter Marsha Coetzer het vertel dat die dogters sedert die begin van die seisoen merkwaardige vordering getoon het. Volgens haar is dit veral indrukwekkend dat dit vir die meeste van hulle hul eerste keer op die krieketveld is.
Die toernooi vind van 3 tot 5 Desember plaas, waar die span teen ander distrikte van Johannesburg te staan sal kom.
“Met die oog op die Protea-vroue is ek meer as ooit opgewonde oor die groei van die sport onder meisies. Ons stap in ’n splinternuwe era in, waar ons meisies die voortou neem in ’n belowende sporttoekoms vir Suid-Afrika,” het Marsha gesê.



