Elrezé mik vir goud by SA Junior Jukskei – en jy kan help
Help die 16-jarige Elrezé Enslin om haar droom te verwesenlik en Suid-Afrika in die SA Junior Jukskei-kampioenskappe te verteenwoordig.
Elrezé Enslin (16) is gekies om in Desember aan die SA Junior Jukskei-kampioenskappe in Kroonstad deel te neem. Sy het egter die gemeenskap se ondersteuning nodig om haar droom te verwesenlik.
Elrezé verteenwoordig die Wes-Rand tydens die kampioenskappe wat van 6 tot 12 Desember plaasvind. Op 6 Desember neem sy en haar spanmaat deel aan die dubbelspel, en van 8 tot 12 Desember neem sy deel aan die o16-spankompetisie vir die trofee.
In Augustus het Elrezé Hoërskool Riebeeckrand in die skoleliga verteenwoordig, waarna sy vir die o16 Wes-Rand-meisiespan gekeur is.
“Elke prestasie maak my trots, insluitend die voorreg om in die Wes-Rand- en Gauteng-spanne te speel, en ook om vroeg in die jaar Suid-Afrika in Namibië te verteenwoordig,” sê Elrezé.
Sy beoefen reeds jukskei sedert sy nege jaar oud is en neem al agt agtereenvolgende jare aan die SA-kampioenskappe deel. Haar belangstelling het in graad drie begin toe sy ’n kennisgewing oor die skool se luidspreker gehoor het waarin leerders uitgenooi is om jukskei te probeer. Sy het besluit om deel te neem en het vinnig besef hoeveel sy dié sport geniet.
“Daar is baie redes waarom ek van jukskei hou. Een daarvan is die geleentheid om nuwe vriende te maak – almal is vriendelik. Ek geniet dit om strategies te dink, en dit gee my plesier om die penne raak te gooi,” verduidelik sy.
Elrezé hoop om goud by die komende kampioenskappe te verower en Suid-Afrika tydens die vertoonwedstryde op 12 Desember te verteenwoordig. Sy hoop ook om in 2026 vir die o19 SA-toerspan na Namibië gekies te word.
Haar raad aan ander atlete is: “Wanneer jy oefen, oefen met die doel om jou volle potensiaal te bereik.”
Enigiemand wat Elrezé wil ondersteun, kan haar ma kontak by 071 593 5945 of die Back-a-Buddy-skakel besoek. https://www.backabuddy.co.za/campaign/jukskei-sa-kampioenskappe



