Randfontein vier eerste vroulike atletiek-afsitter
Juffrou Adelle Grobbelaar van Laerskool Randfontein maak geskiedenis as Randfontein se eerste vroulike atletiek-afsitter en baan die weg vir jong meisies in sportleierskap.
Randfontein het onlangs ’n besondere mylpaal in plaaslike sportgeskiedenis bereik toe juffrou Adelle Grobbelaar van Laerskool Randfontein as die dorp se eerste vroulike afsitter by die Sirkel A-atletiek aangestel is.
Volgens die skoolwoordvoerder, Annie Nolan, bestaan die Sirkel A-atletiekbyeenkoms uit vyf skole wat teen mekaar meeding om deur te dring na die volgende rondte van die kompetisie.
“Hierdie aanstelling beteken nie net persoonlike erkenning vir haar nie, maar dien ook as inspirasie vir talle jong meisies wat graag hul plek in sportadministrasie en -leierskap wil inneem,” het Nolan gesê.
Met haar aanstelling het Grobbelaar haar gevoelens soos ’n mengsel van trots, verantwoordelikheid en opgewondenheid verwoord.
“Jy weet jy dra nie net jou skool se waardes nie, maar baan ook die weg vir ander meisies wat ná jou sal volg,” het sy gesê.
Nolan het verder bygevoeg dat Grobbelaar as afsitter ’n kernverantwoordelikheid tydens atletiekbyeenkomste dra: elke wedloop begin by haar. Met ’n vaste hand, ’n skerp oog en onwrikbare konsentrasie verseker sy dat elke atleet ’n regverdige en professionele begin kry. In ’n rol wat tradisioneel deur mans oorheers is, bewys sy dat bekwaamheid, dissipline en passie nie geslagsgebonde is nie.
Volgens Grobbelaar was haar pad na hierdie prestasie geen toeval nie.
“Om dit te bereik, moes ek konsekwent my beste gee – altyd beskikbaar wees, hard werk, bereid wees om uit my gemaksone te beweeg en geen taak as te klein of te groot te beskou nie.”

Hierdie ingesteldheid het haar nie net die respek van kollegas en atlete besorg nie, maar ook die vertroue van die atletiekgemeenskap in Randfontein. Gemeenskapslede en mede-onderwysers beskryf haar as professioneel, kalm onder druk en toegewyd aan die ontwikkeling van jong sportlui. Die aanstelling stuur ’n sterk boodskap uit: geleenthede in sport is beskikbaar vir almal wat bereid is om die nodige werk in te sit.
Terwyl die knal van die afsitterpistool voortaan ook ’n simbool van vooruitgang sal wees, bly Grobbelaar gefokus op haar taak – om elke wedloop met integriteit te begin en as voorbeeld vir die volgende generasie op te tree.
“Met haar vasberadenheid en visie tree sy nie net as afsitter op die baan op nie, maar ook as ware baanbreker,” het Nolan afgesluit.



