Teine-seniors vlieg hoog teen Vereeniging
Teine se seniors het Vereeniging oortuigend geklop in ’n vriendskaplike stryd … nou wag Roodepoort.
Randfontein Rugbyklub het die afgelope naweek kragte gemeet met Vereeniging in ’n reeks vriendskaplike wedstryde ter voorbereiding van die komende liga.
Ten spyte van uitdagende weersomstandighede en die feit dat hulle weg van huis af moes speel, het Teine se seniors ’n indrukwekkende vertoning gelewer.
Wat die juniors betref, het weerlig die voortgang van die wedstryde beïnvloed en beide die o19- en o21-wedstryde moes as gevolg daarvan gestaak word. Vereeniging het onderskeidelik met 15–0 en 12–7 geseëvier, maar die ondervinding was steeds waardevol vir die jong spelers.

Die uitslae van die seniors se wedstryde het ’n ander prentjie geskets. Die tweede span het vyf drieë aangeteken en ’n oortuigende oorwinning van 33–5 behaal. Die eerste span het ewe indrukwekkend met 35–12 geseëvier. Johan Swart het twee keer die doellyn oorgesteek, terwyl Keagan Fortune, Jacqone de Villiers en Tiaan Naudé elk een keer gedruk het.
Fortune het verder as top-puntemaker uitgestaan met al vyf sy doelskoppe geslaag en in totaal 15 punte aangeteken. Die derde span het nie op die dag deelgeneem nie.
Lees ook: Teine seniors dominate Diggers in pre-season clash
Teine se volgende en laaste vriendskaplike wedstryd vind plaas teen hul Wes-Rand-vaartsvyand, Roodepoort, op 28 Maart tuis. Die liga begin op 11 April.



