Local sportSchool sportSport

Affies breek lang wendroogte teen Grey College, volpunte vir Garsies en Klofies in Noordvaal Cup toernooi

Terwyl Affies se eerste rugbyspan Saterdag op hul tuisveld elf jaar van teleurstellig teen die magtige Grey College van Bloemfontein in vreugde kon verander, het Garsfontein en Waterkloof beide hul posisies op die punteleer van die Noordvaal Cup se Beker-afdeling verstewig met bonuspunt oorwinnings.

Affies se eerste rugbyspan het Saterdag geskiedenis gemaak op hul tuisveld in Pretoria toe hulle ’n wen-droogte van elf jaar teen Grey College van Bloemfontein met ’n puik oorwinning gebreek het.

Dié twee top skole het sedert hul eerste kragmeting in 1923 reeds 49 keer teen mekaar gespeel. Sedert 2016 het die seuns van Bloemfontein elke jaar – met die uitsondering van die twee Covid-geaffekteerde seisoene van 2020 en 2021 – koning gekraai teen Affies. Dit beteken dat die meerderheid van die huidige eerstespan spelers nog in graad een was toe Affies laas hierdie groot Suid-Afrikaanse skole-derby in 2015 kon wen.

Saterdag het Affies egter in hul tweestryd met Grey College waarskynlik hul beste vertoning tot dusver vanjaar gelewer om die Vrystaters met 28-21 te klop.

Dandré Brink, regtervleuel van Affies, duik oor vir die drie van die dag tydens Saterdag se wedstryd teen Grey College in die King Price Derby Reeks op Affies se tuisveld, nadat hy ’n beweging van 80 meter afgerond het.
Foto: Riaan de Bruyn

Daar was nie plek vir ’n muis op “Die Plaas” – soos Affies se sportvelde bekendstaan – nie en daar word gereken dat meer as 8000 mense rondom die veld stelling ingeneem het om dié skolerugby skouspel gade te slaan.

Op die veld het die twee spanne van die afskop af albei positiewe, aanvallende rugby gespeel. Goeie verdediging aan beide kante het egter tot gevolg gehad dat die eerste punte eers na 20 minute se spel aangeteken is toe een van Affies se uitblinkers, skrumskakel Fourie Roberts, kon oorval vir sy drie ná ’n puik lopie deur regtervleuel Dehan Botha.

Affies se sterk vleuel, Dehan Botha, duik oor vir die drie wat die laaste spyker in Grey College se doodskis geslaan het. Foto: Riaan de Bruyn

Dit was juis spelskeppers soos Roberts, Botha, buitesenter Ricco du Plessis en heelagter Joshua Gouws, wat aan Affies ’n voordeel gegee het in die wedstryd. Die tuisspan se voorspelers het veral in die vaste skrums oorheers en die wyse waarop Roberts-hulle met kreatiewe spel dié momentum van hul voorspelers gebruik het, het die Vrystaters gereeld hoofbrekings besorg.

Hoewel spel teen rustyd nog gelykop was (7-elk), het Affies se oorheersing van die vaste fasette vrugte begin afwerp in die tweede skof. Grey Kollege het kortstondig voorgeloop na ’n drie deur hul kaptein, Alexi Tyropolis, maar toe kom die keerpunt met die drie van die dag, waartydens linkervleuel Dandré Brink ’n beweging van 80 meter kon afrond.

Botha se drie, waartydens hy weer gewys het hoe stewig hy op sy voete is met die bal in die hand, het die uitslag verseël en die seuns van Bloemfontein se derde drie in die doodsnikke van die wedstryd was eintlik maar ’n troosprys.

Dit was boonop ’n besonder suksesvolle dag vir Affies op die rugbyveld, aangesien die Pretorianers 24 uit die 28 rugbywedstryde teen hul teenstanders an Bloemfontein kon wen. Slegs Grey College se o.16-A; B en D-spanne en hul o.15-E span kon oorwinnings behaal.

Dylan Stumke, binnesenter van Menlopark bemeester ’n hoë skop met verdedigers van Waterkloof gereed om hom vas te vat tydens Saterdag se Noordvaal Cup (Beker-afdeling) wedstryd op Menlopark se veld.
Foto: Lizha van Rensburg

– Op Hoërskool Menlopark se veld het die Parkies en hul bure van anderkant die N1 snelweg, Hoërskool Waterkloof, in ’n Noordvaal Cup (Beker-afdeling) wedstryd teen mekaar te staan gekom.

Net soos ’n maand gelede toe die twee spanne mekaar in die NWU Sportreeks ontmoet het, was die Klofies se pak voorspelers weer te sterk vir Menlo en hul oorwinning van 36-12 is op dié grondslag gebou.

’n Drie deur Menlopark se losskakel, Willie Pieterse, het die telbord aan die rol gesit, maar daarna het die Blou Tornado voor rustyd twee keer gaan druk om met 12-7 voor te loop.

Nog vier besoeke aan die doellyn deur die Klofies in die tweede skof teenoor slegs ’n enkele drie deur die tuisspan het aan eersgenoemde volpunte op die punteleer verseker.

Garsfontein se vurige flank, Derik Potgieter, duik sierlik oor die doellyn vir sy drie teen Noordheuwel.
Foto: Joubert de Wet

– Nog verder oos, in Garsfontein, het die Garsie Bere ook vyf ligapunte geoes toe hulle die sukkelende Hoërskool Noordheuwel van die Wesrand met 44-17 kafgedraf het.

Noordheuwel het moedig probeer en kon vir 15 minute vasbyt, maar toe die Garsies se snellers eers spasie begin vind op die aanval, het die telbord saamgesels. Dit het alles begin met ’n lopie van 100 meter deur regtervleuel, Yuvrah George, vir sy eerste drie.

Nog ’n drie – dié keer deur die flank Derik Potgieter – en ’n strafdoel het gesorg dat die tuisspan met 15-3 teen rustyd voorloop. Ná die omdraaislag het die Bere die pad doellyn toe nog vier keer gevind, terwyl die besoekers slegs twee keer kon gaan druk. 

Foto: Joubert de Wet

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button