Wedloop teen tyd vir Moot-netbalspeler
Die 17-jarige Oos-Moot netbalspeler, Telana Breytenbach, veg vir haar sporttoekoms ná ’n ernstige kniebesering. Die gemeenskap span nou saam om haar broodnodige knie-operasie betyds moontlik te maak.
’n Talentvolle netbalspeler skep tans moed danksy die ondersteuning van haar ma, span, skool en ’n netwerk van mense wat weier om haar sportdrome op ’n beseringsbank te laat eindig.
Telana Breytenbach, ’n 17-jarige netbalspeler van Hoërskool Oos-Moot, staan egter in die middel van ’n dringende wedloop teen tyd.
Sy het op 25 Mei tydens ’n wedstryd haar linkerknie ernstig beseer. ’n Voorste kruisligament-skeuring is deur ’n skandering op 2 Junie bevestig.
Sy benodig onmiddellike rekonstruktiewe chirurgie wat R120 000 kos, maar die gesin het geen mediese fonds nie.
Dokters waarsku dat enige vertraging in die nodige operasie permanente skade aan die kniegewrig en omliggende kraakbeen kan veroorsaak.
Die besering het op die skool se sportveld tydens ’n wedstryd plaasgevind.
Haar ma, Anna-Mart, sê Telana het ná die val ernstige pyn ervaar, waarna die span se fisioterapeut onmiddellik ingetree en gehelp het.
Sedertdien sit sy op die beseringsbank terwyl haar span voortgaan met voorbereiding vir groot toernooie, insluitend die onlangse Gauteng-kampioenskappe.
Teen 18 Junie is R86 000 reeds deur ’n BackaBuddy-veldtog ingesamel, met die gemeenskap wat steeds beroepe op ondersteuners maak om die oorblywende fondse in te win.
Breytenbach is self ’n voormalige sportvrou en deesdae ook ’n netbalskeidsregter. Sy en haar dogter kom uit ’n familie met diep Moot-wortels. Haar ouers het onlangs hul 50ste skoolreünie by Hoërskool Oos-Moot bygewoon.
Sy beskryf die dag van die besering as ’n reuse-uitdaging vir hul huishouding. “Dis selfs nou nog ’n hartseer tyd vir ons.”
Die impak strek verder as net die mediese diagnose. Vir ’n atleet wat van jongs af haar lewe rondom sport gebou het, is die werklikheid oorweldigend, sê haar ma.
“Dis moeilik vir haar om op die beseringsbank te sit. Om haar op te beur, neem ek haar na die wedstryde waar ek ’n netbalskeidsregter is. Sy is ook self ’n gekwalifiseerde skeidsregter en bly steeds met die sport verbind.”
Te midde van onsekerheid het ’n klein hondjie, ’n Jack Russell genaamd Jakkals, onverwags ’n belangrike rol in Telana se herstelproses begin speel.
Volgens haar ma het Telana self die bynaam ‘Jack Russell” al jare gelede gekry omdat sy altyd so energiek op die baan is.
“Ons het onlangs ’n baie emosionele dag gehad en toe besluit ek sy kan die hondjie kry waarvan sy lankal droom. Sy het hom met haar eie geld gekoop wat sy met haar skeidsregterbeurte verdien het. Hy troos haar baie.”
Die gemeenskap se reaksie op Telana se besering en fondse vir ’n operasie, het vinnig gegroei. Van ’n skoolondersteuningsinisiatief tot ’n breër netwerk van donasies en hulp toe ’n Moot-inwoner, Wayne van Dyk, besluit het om ’n fondsinsameling via ’n skarebefondsing-webwerf, BackaBuddy, te begin. Netbalmaats, ouers, oud-leerders en ondersteuners het reeds bygedra.
Die operasie is vir 24 Junie geskeduleer. Breytenbach kon tot ’n ooreenkoms met die hospitaal kom oor die inbetaling van die skarebefondsing.’n Reëling is in plek met die hospitaal om ’n gedeeltelike inbetaling te maak, terwyl verdere fondse intussen ingesamel word.
Vir haar afrigter, Shanté Ludick, is Telana nie net ’n speler nie, maar ’n kernspeler in die span se identiteit.
“Sy gee elke keer alles op die baan en weier eenvoudig om op te hou baklei, maak nie saak hoe uitdagend die situasie raak nie. Sedert 2023 het sy haarself bewys as ’n ongelooflike sterk baldraer. Haar spel is elektries. Sy bring tempo, energie en momentum wanneer die span dit die nodigste het,” vertel Ludick.
Dit beteken baie vir haar as afrigter om ’n speler soos Telana op die baan te hê.
“Ek weet ek gaan altyd iemand sien wat haar hart uitspeel, haar span eerste stel en nooit ophou baklei nie,” vertel Ludick.
– Kliek hier om na Telana Breytenbach se BackaBuddy-blad te gaan: https://www.backabuddy.co.za/campaign/acl-surgery-fundraiser
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
