Boekprojek steun dierewelsyn
Opbrengs van Johann van Mollendorff se nuwe boek, Raven, sal gebruik word om sterilisasieprojekte vir diere te ondersteun. Hy hoop die boek sal bewustheid oor verantwoordelike troeteldiereienaarskap verhoog en terselfdertyd 'n tasbare verskil aan dierewelsyn regoor Suid-Afrika maak.
’n Skrywer en logistieke bestuurder van die Moot, hoop sy nuutste boek sal nie net lesers raak nie, maar ook ’n tasbare verskil aan die lewens van duisende diere maak deur sterilisasieprojekte regoor Suid-Afrika te ondersteun.
Johann van Mollendorff het Raven op 25 Junie via Amazon en Draft2Digital uitgereik nadat die idee tydens ’n vlug vanaf Kaapstad ontstaan het. Hy sê die besluit om die boek te skryf het gevolg nadat hy weer die groot aantal rondloperdiere in die Kaap gesien het.
“Op 35 000 voet bo die aarde, waarskynlik die naaste wat ek ooit aan die hemel sal kom, het die inspirasie my getref. Ek het die fantasieboek waaraan ek besig was om te werk, opsy geskuif en begin skryf aan dié boek,” sê hy.
Volgens Van Mollendorff spruit sy betrokkenheid by dierewelsyn uit jare lange belangstelling in die werk van dierewelsynsorganisasies, asook sy eie ervarings met diere wat hy gered het. Hy het oor die jare twee katte in Secunda aangeneem en ook ’n klein hondjie langs die pad in die reën opgetel.
Hy sê die besluit om ’n deel van die boek se opbrengs aan dierewelsyn te skenk, was vanselfsprekend omdat organisasies wat weerlose diere versorg voortdurend finansiële druk ervaar.
Volgens hom sal die fokus spesifiek op sterilisasie val eerder as algemene bedryfskoste.
“Deur die oorsaak van oorbevolking aan te spreek, kan ons help om die voortdurende siklus van verwaarlosing en lyding te verminder. Ek dink niemand wil ’n dag beleef waar genadedood ’n nóg groter deel van dierewelsyn word as wat dit reeds is nie.”
Hy voeg by dat die opbrengs van een boek op sy eie nie die probleem sal oplos nie, maar dat hy hoop mense sal die groter doel agter die projek ondersteun.
Die eerste deel van die boek vertel die verhaal van sy swart kat, Raven, wat ongeveer ses jaar gelede haar agterbeen verloor het.
Van Mollendorff sê Raven se verhaal gaan oor veel meer as net ’n dier.
“Dit is ’n verhaal van genesing, aanvaarding en veerkragtigheid. Raven se storie gaan nie net oor diere nie; dit gaan ook oor die menslike vermoë om ná verlies weer op te staan.”
Hy hoop mense wat self moeilike tye beleef het, sal hoop uit die verhaal put en aangemoedig word om aan te hou vorentoe beweeg.

Nog ’n belangrike doel van die boek is om verantwoordelike troeteldier-eienaarskap te bevorder.
Van Mollendorff sê baie mense onderskat die langtermyn-verantwoordelikheid wat met die aanneming van ’n dier gepaard gaan.
Hy wys daarop dat kos, sterilisasie, inentings, veeartsenykundige sorg en onverwagte mediese uitgawes alles deel vorm van verantwoordelike eienaarskap.
Volgens hom behoort mense deeglik te oorweeg of hulle die finansiële en praktiese verantwoordelikheid vir ’n dier kan dra voordat hulle ’n troeteldier aanneem.
Hy sê diere wat uiteindelik by skuilings afgelaai word nadat hul eienaars hulle versaak het, laat altyd ’n blywende indruk op hom.
“Ek het al in die oë gekyk van diere wat deur hul eienaars by skuilings afgelaai is. Hulle oë is dof. Hulle verstaan nie hoekom die mens wat hulle liefhet en wat hulle met hul hele hart vertrou, hulle agterlaat nie.”
Van Mollendorff glo ook mense het ’n burgerlike sowel as morele verantwoordelikheid om dieremishandeling aan te meld wanneer hulle daarvan bewus raak.
Hy sê nie almal het die geleentheid om as vrywilligers by dierewelsynsorganisasies betrokke te raak of self diere te red nie, maar dat die aankoop van die boek nog ’n manier bied om tot die saak by te dra.
Een van die grootste uitdagings tydens die skryfproses was, volgens hom, om seker te maak alle feite is korrek.
Hy sê hy het die inligting deur mense met ervaring in die dierewelsynsbedryf laat bevestig om die inhoud so akkuraat moontlik te hou.

Die mees lonende deel van die proses was egter die mense wat hy ontmoet het.
“Die mense in dierewelsyn is, na my mening, die ware helde. Hulle herinner ’n mens daaraan dat daar steeds baie goeie mense in die wêreld is.”
Die grootste deel van die boek se opbrengs sal, volgens Van Mollendorff, aan die National Sterilization Project en Let’s Spay SA geskenk word.
Hy sê hy werk tans nou saam met Debra Buys van die National Sterilization Project en Mandy Lu van Let’s Spay SA omdat albei organisasies reeds jare lank op sterilisasieprojekte fokus.
Hy voeg by dat geregistreerde organisasies sonder winsbejag die boek ook self kan verkoop, waarna die opbrengs direk aan die betrokke organisasie uitbetaal sal word.
Volgens hom is deursigtigheid en verantwoordbaarheid noodsaaklik.
Hy glo boeke kan mense se perspektiewe verander en hulle motiveer om verantwoordelike besluite te neem.
Hy beplan reeds aan ’n tweede boek met die titel Tails of Hope, wat kortverhale van reddingswerkers, veeartse en ander mense in die dierewelsynsbedryf sal bevat.
Volgens hom sal hy aanhou skryf solank sy werk kan help om sterilisasieprojekte en dierewelsyn te ondersteun.
“Hierdie is nie ’n probleem wat vanself gaan verdwyn nie. Daarom glo ek ons moet nou begin: een boek, een sterilisasie en een lewe op ’n slag.”
LEES MEER: Virginia Lee postuum met Melomaan-toekenning vereer
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
