Reuse-meterboetes lei tot nuwe AfriForum-veldtog
’n Burgerregte-organisasie ontvang toenemend klagtes van inwoners wat beweer dat hulle munisipale rekeninge skielik enorme aanpassings, boetes vir sogenaamde meterpeuter of meterlesings bevat wat hulle nie kan verklaar nie. 'n Veldtog is nou geloods om genoeg inligting te kry om gesamentelik druk op die metro te plaas.

Inwoners van Pretoria-oos, die Moot en Pretoria-Noord wat sê hulle is onregmatig met reuse-elektrisiteitsrekeninge en boetes vir beweerde meterpeuter belas, kry nou ondersteuning in ’n nuwe veldtog deur AfriForum.
Die burgerregte-organisasie sê die situasie het só vererger dat hulle oproepsentrum toenemend klagtes ontvang van inwoners wat beweer dat hulle meters verwyder is en daarna met duisende rande se boetes en rekeningaanpassings gekonfronteer is.
Die organisasie sê meer as 100 inwoners het reeds hul ervarings met die organisasie gedeel en dat die klagtes ’n kommerwekkende patroon begin toon.
Llewellyn Hemmens, ’n woordvoerder van AfriForum, sê die omvang en aard van die klagtes het die organisasie genoop om die situasie verder te ondersoek.
Volgens hom is daar aanduidings dat dit nie bloot individuele gevalle is nie.
“Ons voorlopige ondersoek dui daarop dat daar moontlik ’n georganiseerde misdaadelement binne die metro se stelsel kan wees wat daartoe lei dat inwoners aansienlik hoër bedrae vir elektrisiteitsdienste moet betaal as wat hulle verwag het en onnodig van meterpeutering beskuldig word.”
Die organisasie beweer ook dat inwoners in sommige gevalle van meterpeuter beskuldig word sonder dat hulle voldoende bewyse van die beweerde peutering ontvang van die metro.
Volgens Hemmens is elektrisiteitsmeters in verskeie gevalle verwyder, waarna inwoners met ’n beskuldiging van meterpeuter en ’n gepaardgaande boete gekonfronteer is.
Die boetes wissel volgens die organisasie van R27 000 tot R73 000.
Hemmens verduidelik dat die organisasie veral waargeneem het dat talle van hierdie voorvalle voorkom by eiendomme waar sonkrag gebruik word.
AfriForum het daarom ’n veldtog van stapel gestuur waardeur inwoners hul klagtes en besonderhede aanlyn kan registreer.
Die organisasie wil dié inligting gebruik om druk op die metro te plaas sodat sake behoorlik ondersoek kan word en gesprekke oor die omvang van die probleem met die organisasie gevoer kan word.
Hemmens sê AfriForum is ook bekommerd oor inwoners wat probeer om hierrondom formele dispute aanhangig te maak, maar volgens hom ontmoedig word of nie voldoende in staat gestel word om die proses te voltooi wanneer hulle dienssentrums van die metro besoek nie. “Die kern van die probleem is egter dat inwoners wat hul rekeninge en meterboetes betwis, nie toegang tot ’n behoorlike en deursigtige dispuutproses het nie en hier wil ons intree.”
Metro-woordvoerder Lindela Mashigo sê inwoners wat ’n bevinding van meterpeuter betwis, moet wel ’n formele dispuut deur die stad se voorgeskrewe proses indien.
Hy verduidelik dat ’n spesiale skuldverligtingsprogram geloods is wat ’n spesifieke amnestie vir meterpeuter insluit.
Die periode waarin die amnestie-aansoek gedoen kan word, strek vanaf 1 Julie tot 30 September.
Mashigo verduidelik indien ’n inwoner gedurende hierdie tydperk vrywillig aanmeld dat sy krag- of watermeter gemanipuleer of onwettig gekoppel is, kan “die toepaslike boetes, onderhewig aan die nakoming van die amnestievereistes en ooreenkomstig die goedgekeurde beleid, kwytgeskeld word”.
Volgens Mashigo is die stad se 2026-elektrisiteitsmeterpeutering-amnestievorms by alle kliëntedienskantore van die metro beskikbaar.

Hy sê die 2026-amnestie is net bedoel vir kliënte wat vrywillig na vore kom voordat die stad die peutering ontdek.
Inwoners wat reeds deur veldoudits en ondersoeke aan meterpeuter deur die metro verbind is, kwalifiseer volgens hom nie vir die amnestie nie.
’n Inwoner wat wel vir die amnestie kwalifiseer, moet die meter vrywillig aanmeld, die stad toelaat om die saak te registreer en instem tot die installering van ’n nuwe voorafbetaalde meter met die nodige sekuriteitsmaatreëls.
Hy waarsku inwoners oor ’n afsonderlike bedrogspul waarin swendelaars inwoners glo belowe dat meterboetes verminder of gekanselleer kan word indien hulle geld aan hulle sou betaal.
Volgens Mashigo moet “inwoners geen geld aan privaat bankrekeninge of deur informele elektroniese betaaldienste betaal om ’n meterboete te laat verminder of verwyder nie”.


Inwoners wat vir AfriForum se veldtog om meterpeuter te ondersoek wil registreer kan op dié skakel kliek: https://www.artikels.afriforum.co.za/tshwane-se-boetes-vir-meterpeutering-tref-onskuldige-inwoners-veg-terug/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
