News

Metro se opruimingsbeloftes in die Moot onder die vergrootglas

Nog 'n skoonmaaksessie en ’n opvolginspeksie van 'n openbare ruimte langs die gekaapte Melgisedek-gebou en -terrein is aan die inwoners van 'n kompleks belowe. Inwoners sê hulle het nie die beloofde opvolgoptrede waargeneem nie, terwyl nuwe informele nedersettings strukture gebou word en afvalprobleme volgens hulle voortduur.

Ná klagtes oor ’n vuil en verwaarloosde openbare ruimte in Riviera in die Moot, het die metro verskeie ingrypings belowe.

’n Inwoner sê egter dat die beloofde opvolgaksie na die aanvanklike skoonmaaksessie nie gebeur het nie, terwyl die terrein volgens hom steeds agteruitgaan en nuwe informele nedersettingstrukture verskyn.

Keenin Govinder, ’n inwoner en woonsteleienaar van Riviera Close Estates, sê hy is teleurgesteld oor die gebrek aan sigbare, volgehoue optrede nadat die aanvanklike opruiming van die openbare ruimte langs die kompleks plaasgevind het.

“Dit is eintlik baie teleurstellend. Die metro is duidelik bewus van die area, maar neem dit nie ernstig genoeg op nie. Dit lyk inteendeel asof die informele nedersetting na die area uitbrei,” sê Govinder.

Hy sê die metro het nie ná die aanvanklike opruiming teruggekeer om die terrein verder skoon te maak nie.

Volgens hom het inwoners ook nie waargeneem dat die beloofde opvolginspeksie plaasgevind het nie.

Intussen word nuwe strukture volgens hom op die aangrensende munisipale grond opgerigvan Melgisedek, ’n gekaapte metro-gebou. Die woonkompleks grens aan beide Melgisdek en die openbare ruimte teenaan Soutpansbergweg.

Govinder meen die aanvanklike opruiming het nie die onderliggende probleme opgelos nie, aangesien daar volgens hom nie voldoende monitering of beheer van die terrein is nie.

Die openbare ruimte langs Soutpansbergweg, naby die Melgisedek-geboue en Riviera Close Estates, is volgens inwoners oor die afgelope drie jaar toenemend problematies.

Hulle kla onder meer oor onwettige storting, brandende vullis, openbare urinering en ontlasting, vlieë, onaangename reuke en veiligheidskwessies.

Metrowoordvoerder Lindela Mashigo het bevestig dat die metro se Departement van Omgewings- en Landboubestuur verantwoordelik is vir die skoonmaak van die openbare ruimte.

Volgens Mashigo sluit dié verantwoordelikhede die optel van rommel, die leegmaak van straatdromme en die verwydering van onwettig gestorte afval in.

Hy het bevestig die verwydering van onwettige storting by sulke ruimtes word volgens ’n roterende toekenning van toerusting aan verskillende gebiede geskied.

Mashigo het verder bevestig dat die metro die terrein op 19 Oktober geïnspekteer het. Ná dié inspeksie is die onwettige stortingspan geskeduleer om die opgehoopte afval teen 30 Oktober te verwyder en het daar wel ’n gedeeltelike skoonmaaksessie plaasgevind.

Volgens hom sou ’n opvolginspeksie binne sewe werksdae ná die opruiming plaasvind om die toestand van die terrein te beoordeel en te bepaal of verdere ingryping nodig is.

Wat die klagtes oor openbare urinering en ontlasting, vlieë, aanhoudende onaangename reuke en die verbranding van vullis betref, het Mashigo gesê die metro se Omgewingsgesondheidsdienste sal die aangemelde probleme ondersoek.

Mashigo het ook gesê die gebied sal ná die opruiming deur maandelikse terreinbesoeke en inspeksies gemonitor word.

Dit sal volgens hom die metro help om verdere afvalbestuursprobleme te identifiseer en te bepaal of bykomende ingryping nodig is.

Govinder meen die voortslepende regsgeding rondom die Melgisedek-geboue behoort nie die metro se verantwoordelikheid teenoor omliggende inwoners te verswak nie.

Die dispuut hou verband met die metro se beplande uitsetting en hervestiging van sowat 450 inwoners van die Melgisedek-geboue. Regslui vir Menseregte het regstappe gedoen om die uitsettingsproses te stuit. Die saak is tans by die Grondwethof geregistreer vir besluitneming en ’n bevel.

Die openbare ruimte langs Riviera Close Estates aan die kant van Soutpansbergweg waaroor inwoners kla oor rommel, onwettige storting en ’n gebrek aan sigbare opvolgskoonmaakaksies deur die metro. Foto: Elize Parker

Die Appèlhof se bevel vereis dat die uitsettingsproses tydelik opgeskort word totdat die Grondwethof ’n besluit geneem het.

’n Inwoner van Riviera Close het intussen gevra dat die metro die terrein as ’n onwettige stortingsterrein verklaar, terwyl daar met raadslede oor ’n gemeenskapsopheffingsprojek vir die openbare ruimte geskakel word.

Die inwoner sê die openbare ruimte word daagliks deur bus- en taxipassasiers, voetgangers en drawwers gebruik en behoort nie van munisipale dienste ontneem te word nie.

Die inwoners wil ook ’n vaste kontakpersoon of toegewyde span hê by wie storting, onwettige aktiwiteite en verdere probleme direk aangemeld kan word.

Govinder sê die metro se beloofde opvolgoptrede is volgens inwoners nie sigbaar nie. “Ons benodig volgehoue aandag eerder as eenmalige opruimingsaksies,” glo Govinder.

Verdere kommentaar is ná die inwoners se jongste klagtes van die metro versoek, maar was teen druktyd nog nie ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button