Centurion se strate het vroegoggend op Werkersdag gewemel van deelnemers aan die jaarlikse Wally Hayward marathon.
Photo: Koos Venter
Die Wally Hayward marathon, een van die grootste padwedlope wat jaarliks in Pretoria plaasvind, is op Vrydag 1 Mei weer met groot sukses aangebied.
Die wedloop word jaarliks deur die Alpha Atletiekklub van Centurion aangebied.
Duisende atlete vanoor ’n groot deel van Suid-Afrika het opgedaag vir dié prestige-ryke marathon, wat ook die laaste kans is vir atlete in Gauteng om vir die Comrades marathon te kwalifiseer.
Atlete het ‘n keuse gehad van vier verskillende wedlope om aan deel te neem. Die ernstige atlete kon aan die standaard marathon wan 42,2km deelneem, terwyl daar ook ’n halfmarathon (21,1km) was vir die langasems wat net goeie kilometers met hul drafskoene agter die rug wou kry ter voorbereiding vir die Comrades. Dan was daar ook ’n 10km padwedloop en ’n 5km pretdraf vir diegene wat die vakansiedag met ’n goeie oefensessie wou begin.
Die mans-afdeling van die standaard marathon is gewen deur Sam Bolo van Bedfordview. Sy wentyd was 2uur, 21minute en 30sekondes. Yolandi Maclen van Born-to-Run was die eerste vrou oor die wenstreep ná 42.2km.
’n Groot deel van die opbrengs van vanjaar se wedloop sal aan verskillende liefdadigheidsorganisasies geskenk word.
Die span van die Irene atletiekklub het weer gewys dat min ander klubs naby hulle kan kers vashou wat hul gees en kameraderie betref. ‘n Groot groep van dié klub se atlete het die 21.1km halfmarathon saam aangepak en hulle het oral langs die pad aandag getrek.
Hierdie manne van die Eersterust atletiekklub het gewys dat hulle nog baie energie oor het nadat hulle pas 21,1km kafgedraf het.
Boetman het so ’n bietjie hulp van pa nodig gehad om die laaste paar meter in die 5km pretdraf te voltooi…
Soos gewoonlik was daar weer ’n hele paar stootwaentjies te sien oor die wenstreep in die 5km pretdraf, wat weer bewys dat padwedlope ’n sportsoort vir die hele gesin kan wees.
Nog ‘n groep deelnemers aan die pretdraf wat geaspireer het vir die prys as “bes-geklede atlete”.
Die bekende veteraan-atleet, Ian Laxton, is steeds ’n bekende gesig by padwedlope saam met sy self meer bekende vrou, Sonja Laxton. Hier voltooi hy die 10km wedloop, wat ook as deel van die Wally Hayward marathon aangebied is.
Die standaard marathon (42,2km) is gewen deur Sam Bolo van Bedfordview. Sy nie-amptelike tyd was 2uur, 21 minute en 31 sekondes.
Yolandi Maclen van die Born-to-Run klub het die vroue-afdeling van die standaard marathon gewen. Haar nie-amptelike tyd was 2uur, 53 minute en 19 sekondes.
Paulus Radebe van die Airports Company Klub het die 21.1km halfmarathon gewen.
Annerie Kruger van die Magnolia klub was die eerste vrou oor die wenstreep in die 21,1km halfmarathon.
Die 83-jarige Deirdré Larkin het ’n voorbeeld gestel aan baie mense wat glo dat bejaardes nie aan padwedlope kan deelneem nie. Larkin is nog jonk van gees en sy het vir honderde jongmense hakskene gewys in die 10km wedloop. Sy hardloop in die kleure van Randburg Harriers.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.