Local newsNews

Vurige bejaarde op fiets vir 71 uur ten bate van liefdadigheid

Jacky van der Colff het verlede Saterdag by die Voortrekkermonument met sy fiets weggespring in 'n poging om 'n 1 462km lange reis van Pretoria na Kaapstad in minder ure as die jare wat hy leef te voltooi.

Hy mag dalk 71 jaar oud wees, maar dit beteken nie dat Jakkie van der Colff van Waverley koud is nie.

Die vurige bejaarde het besluit dat sy lewe ‘n uitdaging behoort te wees en dus het hy kragte met Radio Pretoria saamge-span om hulle 20ste bestaansjaar te vier en so geld ten bate van Solidariteit Helpende Hand se skooltassieprojek en ook die Instituut vir Blindes in Worcester in te samel.

Van der Colff het verlede Saterdag by die Voortrekkermonument met sy fiets weggespring in ‘n poging om ‘n 1 462km lange reis van Pretoria na Kaapstad in minder ure as die jare wat hy leef te voltooi. Hy wil van Pretoria na die Kaap met sy fiets in onder 71 uur ry.

Hy beoog om teen 19 Oktober sy reis te voltooi. “Sedert verlede jaar wou ek bitter graag by ‘n fisiese of ‘n emosionele uitda-ging betrokke raak. My lewe het stilgestaan en ek wou dit weer aan die gang kry. Ek het my idee rondom die uitdaging met ‘n vriend, wat by Radio Pretoria werk, gedeel en so het die wiele begin draai,” het Van der Colff gesê.

Willie Spies en Fred Marais van Radio Pretoria en Van der Colff het koppe bymekaar gesit en besluit om Van der Colff uit te daag om ‘n fietsrit van Pretoria na Kaapstad te voltooi. Die fietsrit beoog om bewusmaking rakende Radio Pretoria se 20ste bestaansjaar te vier en ook geld in te samel. “Ons gaan daagliks met Jakkie oor die radio praat om sy vordering met die luisteraars te deel. Alles wat tydens dié rit ingesamel word, gaan net so vir liefdadigheid. Ons wens Jakkie voorspoed toe,” het Marais, stasiebestuurder, gesê.

Diegene wat Van der Colff se vordering wil dophou, kan hom of Radio Pretoria op Facebook volg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button