Local newsNews

Mariene Maand: Pikkies steel leerder se hart

Dani Bester se liefde vir die see het van kleins af haar droom gevorm om mariene bewaring te bevorder. ’n Kamp in die Overberg in die Wes-Kaap het haar nuwe insigte oor navorsing, pikkewyne en die bedreigings vir oseane gegee, en haar loopbaankeuse verder bevestig.

Moot-leerder Dani Bester (17) se liefde vir die see het reeds op laerskool ’n duidelike rigting aan haar toekoms gegee.

Vandag is mariene bewaring, veral die beskerming van koraalriwwe en seelewe, steeds ’n belangrike deel van die graad 11-leerder aan Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria se toekomsdrome.

Sy glo leerders moet die Nasionale Mariene Maand ondersteun wat vanjaar van 1 tot 31 Oktober strek.

Die Waverley-inwoner se deelname aan ’n onlangse mariene bewaringskamp in die Overberg in die Wes-Kaap, Y4C-kamp, het haar die geleentheid gebied om meer te leer oor mariene biologie, navorsing en die praktiese werk wat mariene bewaringskundiges doen. “Ek was nog altyd mal oor die see,” vertel Bester.

Die belangstelling het by haar grootouers, Jenny en Fanie Louw, begin. Die Louws het met ’n seiljag om die wêreld gevaar. Hulle reise en die verhale wat sy daaroor gehoor het, het haar as kind geboei en haar siening van ’n lewe naby die see beïnvloed.

Sy het ook baie vakansies in KwaZulu-Natal deurgebring, waar sy die tropiese mariene omgewing kon ervaar en tyd langs die kus kon deurbring.

Dit was dus vir Bester vanselfsprekend om ’n loopbaan in die natuur te oorweeg. Haar belangstelling het reeds tydens haar laerskooljare spesifiek op koraalriwwe begin fokus.

Sy hou daarvan dat die natuur voortdurend verander, en dat elke dag nuwe waarnemings en ontdekkings meebring.

Een van die hoogtepunte van die mariene bewaringskamp vir Dani Bester was om die suidelike noorkapperwalvisse te sien. Foto: Verskaf

Haar ma, Didi, het haar aangemoedig om vir die vyf dag lange Y4C-kamp in te skryf nadat sy die program op ’n webwerf ontdek het.

Bester wou graag ’n beter begrip kry van die werk wat mariene bioloë en bewaringskundiges doen. Sy wou ook vasstel of die studierigting wat sy vir haarself in die vooruitsig stel, werklik by haar belangstellings pas.

Sy het veral uitgesien na die wetenskaplike en navorsingsaspekte van mariene bewaring. Omdat die kamp se leiers in bewaring werk of studeer, het dit haar die geleentheid gebied om meer oor die studierigting en die vereiste skoolvakke te leer.

Een van die hoogtepunte waarna sy uitgesien het, was die moontlikheid om die Mariene Groot Vyf (Suid-Kaperwalvis, grootwithaai, dolfyn, Kaapse pelsrob en Afrika-pikkewyn) te sien.

Dani Bester se besoek aan die Overberg was vir die aspirant mariene bioloog ‘n bevestiging dat sy haar toekoms in dié bedryf moet vind. Foto: Verskaf

Sy was veral verras deur die pikkewyne se vermoë om ver in die oop see in te swem.

“Dit is interessant hoe rats en vinnig hulle deur die water beweeg en glad nie geïntimideer word deur die groot deinings van die see nie.”

Die groep was ook gelukkig genoeg om ’n bedreigde boggelrugdolfyn te sien. Vir Bester was dié onverwagte waarneming besonders, veral omdat dié dier so skaars is.

Die kamp se aktiwiteite het haar ook die geleentheid gebied om op ’n praktiese manier by mariene bewaring betrokke te raak. “Dit was so spesiaal om deel te wees van die data-insameling vir werklike navorsing,” sê sy.

Nog ’n hoogtepunt was ’n besoek aan ’n pikkewynrehabilitasiesentrum op Gansbaai. Daar kon sy pikkewyn-kuikens vashou terwyl hulle gevoer is.

Sy het ook meer geleer oor walvisgedrag en die nesgewoontes van brilpikkewyne. Sy het onder meer gehoor hoe kunsneste gebruik word om pikkewyne te help nadat guano, wat vroeër as nesmateriaal gedien het, vir bemesting geoes is en so pikkewyne se habitat vernietig het.

“Aangesien pikkewyne lewenslank paar, keer hulle elke jaar na dieselfde nes terug.”

Hoewel die kamp talle positiewe ervarings gebied het, het dit Dani ook meer bewus gemaak van die bedreigings wat mariene ekosisteme in die gesig staar.

Oorbevissing is een van die kwessies waaroor sy die grootste kommer uitspreek. ’n Dokumentêr wat tydens ’n fliekaand vertoon is, het haar perspektief op die visbedryf verander.

Die ervaring het haar ook bewus gemaak van die belangrikheid van vakke soos chemie en biologie vir verdere studie in mariene biologie.

Vir haar bly die aantrekkingskrag juis dat die natuur nooit stilstaan nie. “Elke dag bring iets anders mee en ek is mal daaroor.”

Haar belangstelling strek egter verder as ’n toekomstige beroep. “Ons oseane is noodsaaklik vir ons oorlewing en ons moet nou aksie neem om dit te beskerm en bewaar voordat dit te laat is.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button