Local newsNews

Konsentrasiekamp-kranslegging herdenk vroue en kinders

Weerlose vroue en kinders wat hulself in die Irene konsentrasiekampe bevind het en daar gesterf het, is tydens 'n kranslegging herdenk.

Menige geskiedenis-entoesiaste en selfs direkte afstammelinge van die mense wat tydens die Anglo Boere-oorlog in konsentrasiekampe gesterf het, het onlangs dou-voor-dag opgestaan om die jaarlikse kranslegginggeleentheid by te woon.

Tientalle mense het Sondagoggend met sonsopkoms die begraafplaas by die Irene konsentrasiekamp, waar ’n groot aantal vroue en kinders tydens die Anglo Boere-oorlog omgekom het, besoek.

Die oggend is ingelui met ‘n kort program ter herdenking aan die vroue en kinders wat in die konsentrasiekamp gesterf het, waarna besoekers die geleentheid gegee is om blomme op die grafte van die oorledenes te gaan neerlê.

Rentia Landman, organiseerder van die kranslegginggeleentheid, het verduidelik dat meer as ‘n duisend kinders wat gedurende die winter van 1901 in die konsentrasiekamp gesterf het, daar begrawe is.

Sy het vertel dat die verrigtinge nie alleen bedoel was om die vroue en kinders van die verlede te herdenk nie, maar ook om die kinders van die hede moed te gee virr die toekoms van die Afrikanervolk.

“Ek is baie dankbaar vir elke persoon wat die geleentheid bygewoon het. Ons is vanoggend hier byeen om die selfrespek, trots en waardigheid van ons volk te herdenk.”

Maryna van den Heever, wat die geleentheid bygewoon het, het vertel dat sy verbaas was om te sien hoeveel vroue en kinders wat haar nooiensvan deel in die konsentrasiekamp gesneuwel het.

“My nooiensvan is Prinsloo en ek was verbaas hoeveel Prinsloografte hier lê. Daarom maak ek elke jaar ‘n punt daarvan om die kranslegginggeleentheid by te woon.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button