Local newsNews

Veiling t.b.v. liefdadigheid ‘n reuse sukses

Studente bied funksie aan wat sorg vir groot blydskap nadat die aand alle verwagtinge oortref het..

’n Gesellige aand ten bate van ’n welsynsorganisasie in Centurion, het groot opgewondenheid veroorsaak, veral nadat die veiling sowat R30 000 ingesamel het.

Sporthelde Naas Botha en Carlos Spencer het die spoggeleentheid bygewoon.

Die duurste item wat opgeveil is, is ‘n skildery van verskillende rugbyhelde wat vir R17 500 verkoop is.

Tweedejaarstudente van Centurion Akademie het as ’n projek vir hul projekbestuurskursus ’n liefdadigheidsfunksie gereël ten bate van hul gekose liefdadigheidsorganisasie.

Danielle Coetzer het gesê hulle het as ‘n groep besluit om Huis Jerome in Irene te ondersteun omdat dit ‘n welsynorganisasie in hul omgewing is wat die hulp van die gemeenskap nodig het.

Basil en Dehilia Fernie sorg alreeds vir 30 jaar vir hawelose kinders by Huis Jerome. Mishandelde en verwaarloosde kinders en kinders met spesiale behoeftes het deel geword van dié familie in Irene.

Die Fernie-gesin was ook een van die eerste wit ouers wat ‘n swart kind aangeneem het, ten spyte daarvan dat hulle alreeds vier kinders van hul eie het.

Die studentegroep van nege het die afgelope jaar baie hard gewerk om van hierdie aand ’n groot sukses te maak. Coetzer het gesê dat hulle ongeveer 140 kaartjies gehad het waarvan die meederheid reeds voor die funksie uitverkoop is.

Verder dra hulle sukses by tot die R20 000 wat aan Huis Jerome oorhandig sal word.

“Dit was ‘n groot uitdaging om hierdie funksie te reël, maar ons het baie hieruit geleer,” het Coetzer gesê. Coetzer is ook van mening dat daar min tersiêre instansies is wat hierdie praktiese geleentheid aanbied.

Teen die einde van die aand was die groep baie verheug oor hulle funksie, maar ook verlig dat die spanning verby is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button