Local newsLocal sportNews

Ysskaatsers kry amptelike steun

Suid-Afrikaanse figuurskaatsers het nuwe aandag gekry toe adjunkminister Peace Mabe die land se jong ysskaatsers toegespreek het. Van Pretoria se ysskaatsbane tot internasionale kompetisies wys ysskaatsers dat afrigting, en ondersteuning nuwe moontlikhede vir die wintersport kan skep.

“Daar is soveel talent hier. Dit is maklik om wintersport soos ysskaats oor die hoof te sien, maar ons durf dit nie doen nie, want dit is ons toekomstige sterre.”

Peace Mabe, adjunkminister van sport, kuns en kultuur, het dié boodskap oorgedra tydens Evolution on Ice se vertoning van jong skaatstalent by die Breakfast with Champions-byeenkoms op 18 September in Pretoria-oos.

Mabe het beklemtoon dat toegang tot goeie afrigting noodsaaklik is indien Suid-Afrika sy talent in wintersportsoorte soos ysskaats wil ontwikkel.

“Ons het meer afrigters in ysskaats nodig,” het sy gesê.

Nathan Carr-Williams en Rui Chiang Foto: Elize Parker

Mabe het ook aangedui dat haar departement onlangs sterker by wintersport betrokke geraak het. Volgens haar is daar ruimte vir vennootskappe met professionele liggame en ander lande wat oor gevestigde wintersportprogramme beskik. Sy het verwys na Rusland se aanbod om Suid-Afrika met die ontwikkeling van yskaatstalent te help.

Die adjunkminister se teenwoordigheid by die geleentheid plaas die aandag op ’n sportsoort wat dikwels minder sigbaar is as Suid-Afrika se tradisionele somersporte.

Vir ysskaatsers beteken die gebrek aan plaaslike ysgeriewe, beperkte afrigtingsgeleenthede en die koste van internasionale deelname dat ontwikkeling van talent en vaardighede dikwels ’n groter uitdaging is.

Mabe het gesê die ontwikkeling van eerste keer-skaatsers en jong ysskaatsers moet spesifieke aandag geniet.

“Daar is soveel om te doen, ook aan die kant van geestelike voorbereiding en om vertroue in vermoëns om mee te ding, te bou,” glo Mabe.

Sy het ouers en borge bedank vir hul ondersteuning en daarop gewys dat volgehoue toewyding tot verbetering in die sport kan lei. Haar boodskap was terselfdertyd gerig op die langer termynontwikkeling van Suid-Afrikaanse wintersport.

“Ons wil van die departement se kant af ’n sterk moontlike Winter Olimpiese verteenwoordiging bou,” het Mabe gesê. Sy het bygevoeg dat daar gewerk word aan sportkodes vir verteenwoordiging by die Winter Olimpiese Spele en dat vennootskappe ’n belangrike deel daarvan is.

Mabe is sedert 3 Julie 2024 adjunkminister van sport, kuns en kultuur.

Die fokus het by die kampioene-ontbyt vervolgens verskuif na die mense wat hierdie moontlikhede op die ys probeer verwesenlik. Die Pretoria-gebaseerde organisasie Evolution on Ice is in 2017 deur Yolanda en Konrad Giering gestig. Albei is lewenslange figuurskaatsers met meer as drie dekades se ervaring op die ys.

Evolution on Ice het intussen gegroei tot een van Suid-Afrika se grootste figuurskaatsskole, met lede uit Pretoria, Centurion en Johannesburg. Die skool se werk strek ook verder as Suid-Afrika.

Volgens Yolande Giering het Evolution on Ice ’n geleentheid gehad om tot die ontwikkeling van skaats in Egipte by te dra, wat ’n belangrike stap is in die verbreding van figuurskaatsontwikkeling oor Afrika heen.

Gloria en Philip Malan Foto: Elize Parker.

Twee van die skool se jong skaatsers, Milané Gamberini en Philip Malan, het tydens die geleentheid opgetree. Die twee het reeds Suid-Afrikaanse skaatsgeskiedenis gemaak deur as ’n Basic Novice-paar aan ’n internasionale kompetisie onder die vaandel van die Internasionale Skaatsunie deel te neem. Die unie se rekords bevestig dat Gamberini en Malan Suid-Afrika verteenwoordig het, terwyl amptelike uitslae hul deelname aan Skate Berlin International 2026 dokumenteer.

Die jong paar se ontwikkeling illustreer hoe belangrik vroeë afrigting en gereelde oefening is. Hulle oefen voor skool en moet die eise van skaats met akademiese werk en ander aktiwiteite balanseer. Hul verhaal weerspieël ook die groter uitdaging wat Suid-Afrikaanse skaatsers in die gesig staar wanneer hulle internasionale standaarde probeer bereik.

Daniella Martins het op haar beurt binne net meer as twee jaar van dans na ysskaats beweeg. Sy het reeds by nasionale kompetisies naam gemaak en Suid-Afrika in die buiteland verteenwoordig. Haar doel is om die vereiste vlak vir internasionale deelname in gesinchroniseerde skaats, ysdanse en enkelspel te bereik.

Figuurskaats het sy Olimpiese geskiedenis reeds in die vroeë jare van die moderne Spele begin skryf en het later ’n vaste deel van die Winter Olimpiese Spele geword. Die sport bestaan uit verskeie dissiplines, waaronder mans- en vroue-enkelspel, pare, ysdanse en gesinchroniseerde skaats as ’n internasionale mededingende dissipline.

Afrigters Nadia Snyman en Alicia Gerber Foto: Elize Parker

Vir Suid-Afrika is die geskiedenis van deelname besonder beperk. Die land het in 1960 by Squaw Valley sy eerste figuurskaatsverteenwoordigers by die Winter Olimpiese Spele gehad, met Penny Sage en Patricia Eastwood in vroue-enkelspel en Marcelle Matthews en Gwyn Jones in gemengde pare. Dino Quattrocecere het Suid-Afrika in mans-enkelspel by Lillehammer in 1994 verteenwoordig. By Nagano in 1998 was Shirene Human die Suid-Afrikaanse deelnemer in vroue-enkelspel.

Geen Suid-Afrikaanse figuurskaatser het sedert 1998 vir die Winter Olimpiese Spele gekwalifiseer nie. Tog het die sport voortgegaan om nuwe skaatsers op te lewer, met moderne deelnemers soos Gian-Quen Isaacs en ander Suid-Afrikaanse skaatsers wat aan nasionale en internasionale kompetisies deelneem.

– Kliek hier om ’n optrede van Olivia de Lange tydens die Breakfast with Champions te sien:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button