Klas-aksie vir uitstaande pensioengelde begin
Transnet pensioen klas-aksie maak sy eerste draaie in die hof.

Die klas-aksie eis van R85 miljard om meer as twee dekades se agterstallige pensioengeld vir spoorwegpensioenarisse te beding, het verlede week in alle erns begin nadat die Hooggeregshof die aansoek om die oorspronklike hofstukke aan te vul, toegestaan het.
Hiervolgens word Transnet en die minister van openbare ondernemings nou gedwing om te antwoord op die hofaansoek wat in April 2013 ingedien is.
Transnet en die minister van openbare ondernemings het al twee keer uitstel gevra om op die hofaansoek te antwoord.
Dit het die pensioenarisse se regspan ook die geleentheid gebied om ‘n tussentydse aansoek te loods om die hofaansoek aan te vul met verdere inligting.
Vanweë die kompleksiteit en omvang van die saak, is dit gedoen om die saak op ‘n eenvoudiger wyse aan die regter voor te lê.
Terselfdertyd was dit ook ‘n geleentheid om die twee respondente wat nog nie op die hofaansoek geantwoord het nie, naamlik Transnet en die minister van openbare ondernemings, te dwing om nou finaal te antwoord.
Die respondente word nou gedwing om binne 15 werksdae (3 weke) van 18 Oktober af op die hofaansoek, soos aangepas, te antwoord.
Daarna kry die regspan weer geleentheid om op hulle antwoord te reageer en ‘n hofdatum aan te vra. Adv Leon Kellerman, namens die pensioenarisse, het aangedui hy sal poog om ‘n vroeë hofdatum in volgende jaar te reserveer .
Die klas-aksie eis – die grootste van sy soort in die geskiedenis – is daarop ingestel om vir die sowat 70 000 pensioenarisse ‘n billike, markverwante pensioen te beding.
Dit spruit uit skuldbriewe ter waarde van R7,7 miljard wat jaarliks ‘n inkomste van R1,2 miljard vir die pensioenfonds verdien het, maar in 2001 aangewend is vir aandele in MTN ter waarde van R1,39 miljard waaruit die pensioenfonds niks verdien het nie.
Die oorsprong van die verwaarlosing van die pensioenfonds het ontstaan meer as 20 jaar gelede met die omskakeling van die ou Suid-Afrikaanse Spoorweg en Hawens na Transnet. Met die omskakeling was R17,1 miljard aan die fonds verskuldig en was die verstandhouding dat alle veranderinge aan die fonds tot voordeel van die pensioenarisse sou wees. Die bedrag is egter nooit aangesuiwer nie.
’n Parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings het bepaal dat die pensioenfonds 75% van die jaarlike inflasiekoers moes wees. Desondanks het trustees van Transnet se Tweede Vaste Voordele Pensionfonds in 2001 besluit om die jaarlikse verhoging in die pensioenfonds op 2% vas te pen.
Dit het meegebring dat pensioenarisse jaar na jaar verarm het, soveel so, dat daar pensioenarisse is wat tans slegs R1 per maand pensioen ontvang.