EntertainmentLifestyleNews

Pretoria-ballerina vind haar eie ritme

Van ’n toevallige ontmoeting met ballerinas in ’n winkelsentrum op ’n jeugdige ouderdom tot ’n verhoogproduksie wat hulde bring aan Michael Jackson, leef Pretoria se opkomende ballerina Katelyn van Herk haar dansdrome uit met haar droomrol wat reeds in haar groei.

In die wêreld van klassieke ballet, waar dissipline en presisie elke beweging vorm, is dit nie aldag dat ’n jong danser haarself tussen ’n vertoning met ikoniese popmusiek en meer klassieke vertonings bevind nie.

Tog is dit presies waar die Pretoria-ballerina Katelyn van Herk van Centurion haar tans bevind: Op die kruispad tussen tradisie en moderne uitdrukking as deel van Mzansi Ballet se produksie Michael Jackson: Heal the World.

Die produksie, wat vanaf 13 Mei tot 7 Junie by die Montecasino-teater in Johannesburg aangebied word, bring ’n vars interpretasie van Jackson se musiek deur middel van ballet en kontemporêre dans.

Maar vir Van Herk gaan dit oor veel meer as net ’n vertoning.

“Ek was nog altyd ’n groot bewonderaar van Michael Jackson se musiek,” sê sy. “Dis spesiaal vir my om op sy musiek te kan dans.”

Katelyn van Herk glo klassieke tegniek en moderne bewegings kan saamvloei in ’n energieke choreografie. Foto: Voorsien

Haar pad na die verhoog was egter allesbehalwe tradisioneel.

Anders as baie ballerinas wat reeds op ’n baie jong ouderdom begin, het sy eers op 11-jarige ouderdom met ballet begin by nadat sy vroeër eers met moderne danse en ander dansvorme weggespring het.

“Ek wou altyd ballet doen, maar ek en my ma kon nie ’n balletstudio in Centurion kry nie,” vertel sy.

Dit was ’n toevallige oomblik in ’n winkelsentrum wat alles verander het.

“Eendag sien ek toe gelukkig ballerinas loop in ’n winkelsentrum en loop hulle agterna om te vra waar hulle dans,” sê sy. “Dis toe hoe ek begin het by Twirlz Dans Studio.”

Daardie spontane besluit het die begin van ’n intense en veeleisende reis ingelui.

“Ballet beteken baie lang dae,” erken sy. “Klassieke ballet is ’n sterk dissipline om die tegniek, die styl en die choreografie te bemeester, maar ook die toneelspel wat daarmee saamgaan.”

Oor die afgelope twee jaar het sy reeds in klassieke ballette soos Sleeping Beauty en Swan Lake opgetree in Joburg Ballet Produksies, werke wat bekend is vir hul tegniese uitdagings.

Haar dansdrome is groot. “My droomrol is om Odette in Swan Lake te wees, maar dit sal nog ’n rukkie neem.”

Nou bevind sy haar in ’n heel ander soort produksie. Een waar ballet nie net oor tradisie gaan nie, maar oor vermenging van style.

Heal the World vermeng klassieke ballet met jazz, flamenco en kontemporêre dans om Jackson se nalatenskap op ’n nuwe manier die wêreld in te stuur.

Vir Van Herk was die oorgang nie maklik nie.

“Dis moeilik gewees om van ’n klassieke styl aan te pas by die Michael Jackson-bewegings,” sê sy. “Almal ken sy danse en het ’n sekere verwagting, en ons wou so na as moontlik daaraan kom.”

Tog lê daar vir haar ’n besondere leerkurwe in hierdie uitdaging.

“Ballet is ’n kragtige kunsmedium en kan stories baie roerend oordra,” verduidelik sy. “Vir my kan ballet genees. Die oomblik wat ek begin dans, vergeet ek van die wêreld en wat buite die studio of verhoog aangaan.”

Hierdie gevoel van ontsnapping en selfuitdrukking is iets wat sy koester. “Ballet laat my toe om myself te wees.”

Een van haar gunsteling-oomblikke in die produksie is ’n energieke interpretasie van Jackson se liedjie Beat It.

Buite die teater het die produksie reeds opslae gemaak, veral ná ’n flitsdans (flash mob) by The Grove Mall in Pretoria-oos waar dansers die publiek verras het met ’n spontane vertoning. Die reaksie was oorweldigend, met skares wat saamgedans en die oomblik op sosiale media gedeel het.

Vir Van Herk was dit ’n bewys van hoe dans mense kan verbind.

“Dit was ongelooflik om te sien hoe mense reageer en hoe hulle saam beweeg en deel word van die oomblik,” sê sy.

Sy was deel van die Mzansi Ballet Junior Company van 2022 tot 2023, ’n ervaring wat haar blootgestel het aan die professionele danswêreld en haar voorberei het vir ’n verskeidenheid van produksies.

Op 15-jarige ouderdom het sy met akrobatiese danse begin by Love Dance Perfection en het ’n besonderse prestasie bereik toe sy in 2024 SA-kleure vir akrobatiese danse gekry het.

Nou staan sy langs gevestigde name en opkomende sterre, en bou sy stadig maar seker haar eie plek in die bedryf.

Die produksie self fokus nie net op Jackson se ikoniese bewegings nie, maar ook op die emosionele kern van sy musiek, iets wat sy voel perfek aansluit by ballet se vermoë om sonder woorde te kommunikeer.

Vir gehore bied Heal the World ’n kans om iets bekend op ’n heeltemal nuwe manier te ervaar. Vir Van Herk is dit egter ook ’n persoonlike reis; een van groei en selfontdekking.

En hoewel haar pad dalk anders begin het as dié van baie ander ballerinas, is dit juis daardie unieke reis wat haar onderskei.

“Ek het nie die tipiese begin gehad nie,” sê sy. “Maar elke stap het my gebring waar ek nou is.”

– Klike hier om ‘n video van die flitsdans te sien: https://www.instagram.com/reels/DXjSTUJDTPZ/

Do you have more information about the story?

Please send us an email to bennittb@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram or TikTok or WhatsApp Channel

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button