News

Nikola-leeu sterk goed aan na verlies van maat

’n Leeu wat voorheen in aanhouding was en uit Montenegro in Suidoos-Europa gered is, vier twee jaar van veiligheid by 'n Vrystaatse toevlugsoord vir groot katte. Saam met 'n ander leeu wat gered is, Vasylyna het hy gefloreer, maar haar skielike dood in 2025 het ’n groot leemte by hom gelaat. Hy toon steeds veerkragtigheid

Nikola, ’n leeu wat eens onwettig in ’n private huishouding in Montenegro in Suidoos-Europa aangehou is, vier nou twee jaar van veiligheid en herstel by ’n skuiling vir groot katte, Lionsrock, naby Bethlehem in die Vrystaat.

Sy reis, wat begin het met onwettige aanhouding, gevolg deur rehabilitasie in Nederland en uiteindelik geëindig is in die oop grasvlaktes van die Vrystaat, getuig van die krag van internasionale samewerking in diereredding en langtermyn-sorg.

Sy vroeë lewe was ver verwyderd van die natuurlike habitat wat hy deesdae in die Vrystaat ken. In 2022 het hy uit aanhouding ontsnap en vir dae lank deur ’n stedelike gebied naby Budva rondgeswerf, voordat hy deur owerhede en reddingspanne gevind is.

Ten tye van sy redding deur die internasionale dierewelsynsorganisasie, Four Paws, was hy uitgeput, gedehidreer en in ’n swak toestand.

Op ‘n toevlugsoord vir groot katte in die Vrystaat beweeg Nikola stadig deur sy ruim kamp, verken hy plantegroei en rotsformasies en hou besoekers op ’n veilige afstand dop terwyl hy al hoe meer selfvertroue ontwikkel na die afsterwe van sy kampmaat. Foto: Verskaf.

Nádat hy gered is, is Nikola na ’n skuiling in Nederland oorgeplaas.

Hier het hy vir die eerste keer behoorlike voeding, mediese versorging en ’n veilige omgewing ervaar.

In April 2024 is hy na Suid-Afrika vervoer waar hy sy permanente tuiste gevind het.

Vandag leef Nikola in ’n ruim, spesie-geskikte omgewing met natuurlike plantegroei, oop uitsigte en ’n klimaat wat goed by leeus pas.

Sy versorgingspan beskryf hom as nuuskierig, maar steeds geneig om besoekers van ’n veilige afstand af dop te hou.

“Nikola se transformasie oor die afgelope twee jaar was merkwaardig,” sê Hildegard Pirker, bestuurder by Lionsrock.

“Toe hy die eerste keer hier aangekom het, was hy nog versigtig en het hy die letsels van sy moeilike vroeë lewe gedra. Vandag beweeg hy met gemak deur sy kamp, verken hy sy omgewing met selfvertroue en reageer hy positief op die verryking wat ons span bied. Dit is ’n voorreg om sy herstel te aanskou.”

Die toevlugsoord is die tuiste van sowat 100 groot katte soos leeus, tiere en ’n luiperd van regoor die wêreld, waarvan baie voor hul redding onder swak toestande in sirkusse, dieretuine en oorlogsgeteisterde gebiede geleef het.

Nikola (links) en Vasylyna wys die hegte band wat die twee leeus in 2024 in die Vrystaatse toevlugsoord gevorm het nadat hulle saam uit internasionale reddingsprojekte daar aangekom het. Foto: Verskaf

Die oord bied lewenslange sorg in groot, natuurlike kampe wat spesiaal ontwerp is om in die fisiese en emosionele behoeftes van leeus, tiere en luiperds te voorsien.

“Nikola herinner ons waarom ons hierdie werk doen,” voeg Pirker by. “Groot katte hoort nie in private besit nie. Sy reis, van konfiskasie tot rehabilitasie tot ’n ware permanente tuiste, wys wat bereik kan word wanneer regerings, nie-winsgewende organisasies saamwerk vir die welsyn van ’n enkele dier.”

Terwyl sy tweede herdenking gevier word, word daar ook hulde gebring aan Vasylyna, ’n leeuwyfie en Nikola se eertydse maat, wat onverwags laat in 2025 oorlede is.

In die oorloggeteisterde strate van ’n dorp in die Kharkiv-streek in noordoos Oekraïne is Vasylyna as ’n jong, ondervoede leeuwyfie gevind nadat sy uit privaat aanhouding ontsnap het.

Alleen en gedisoriënteer, het sy deur ’n gevaarlike omgewing beweeg. Sy is in 2021 gebore en is voor haar ontsnapping deur ’n privaat persoon in ’n huis aangehou onder omstandighede wat nie volledig bekend is nie.

Ná haar ontsnapping is sy vinnig deur diereregte-aktiviste opgespoor en veilig gevang. Haar verhaal het later deel geword van ’n internasionale reddingspoging wat uiteindelik tot haar hervestiging in Europa en daarna Suid-Afrika gelei het.

Nikola leef nou veilig by ‘n toevlugsoord in die Vrystaat waar hy ná ’n moeilike verlede as onwettige troeteldier herstel en daagliks in ’n natuurlike kamp verkenning kan doen. Foto: Verskaf

Die twee is saam in April 2024 na die Vrystaatse toevlugsoord oorgeplaas, waar hulle as een van die skuiling se naaste en mees gehegte pare floreer het.

Haar skielike dood verlede jaar het egter ’n groot leemte in Nikola se lewe gelaat, en sedertdien fokus die versorgingspan daarop om hom deur hierdie verlies te ondersteun met daaglikse roetines, gedragsmonitering en pasgemaakte verrykingsaktiwiteite.

“Die verlies van Vasylyna was hartseer vir ons span en diep gevoel deur Nikola,” sê Pirker. “Maar hy het buitengewone veerkragtigheid getoon. Elke dag stap ons hierdie pad saam met hom, sagkens, geduldig en met groot sorg. Sy krag en aanpasbaarheid bly vir ons ’n inspirasie.”

Ten spyte van hierdie verlies bly Nikola se verhaal een van hoop en volharding, ’n bewys van wat moontlik is wanneer diere ’n tweede kans kry en mense saamwerk om hul welstand te beskerm.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button