Nòg ‘n ongeluk by gevaarlike kruising
Inwoners vra vir beter spoedmaatreels na onlangse vragmotorongeluk

Die gemeenskap van Moreletapark het andermaal ‘n ernstige beroep gedoen op verkeerbeheermaatreëls nadat ‘n vragmotor verlede week beheer verloor het teen die steil afdraande by Solomon Mahlangurylaan nadat die remme na bewering onklaar geraak het.
Die bestuurder van die hyskraanvragmotor het desperaat probeer om beheer te behou oor sy voertuig, maar het nietemin deur twee mure gery en ook 2 bome in die proses ontwortel.
‘n Motor is ook in die proses uit die pad gestamp, maar geeneen van die insittendes het beserings in die proses opgedoen nie. Die vragmotor het in die Moreletaspruit ná die Delfiestraatkruising tot stilstand gekom.
Wyksraadslid Nick Pascoe het sy steun aan inwoners gegee met die beroep na stenger verkeersmaatreëls en spoedversperrings.
“Hierdie is die soveelste ongeluk waarin ‘n vragmotor beheer verloor het teen die afdraande. Motoriste jaag en kan dan nie reageer as iets meganies verkeerd loop nie. Ons as inwoners pleit dat daar dringend spoedversperrings op dié gevaarlike Solomon Mahlangurylaan aangebring word,” het hy aan Rekord gesê.
Die maatreëls waarvoor inwoners pleit om dié pad veiliger te maak, sluit in die oprigting van ‘n groot bord met flikkerende geel ligte om verkeer van die gevaar te waarsku.
Hulle vra ook ’n spoedbeheerkamera tussen January Masilela- en Garsfonteinweg en die herstel van die kamera op die kruising met Garsfonteinweg.
‘n Swaarvoertuig vangarea met gruis vóór die Garsfonteinwegkruising kan bydra om voertuie wat buite beheer raak, te stop vóór die kruising.
“In die afgelope vyf jaar is reeds meer as 28 ongelukke met lewensverlies van nege mense in hierdie omgewing aangeteken,”het Pascoe gesê. “Die provinsiale regering en die metro deel verantwoordelikheid vir hierdie pad en daarom moet albei reageer op die noodkrete van inwoners vir spoedbeperkingsmaatreels.”
“Gelukkig was daar nie hierdie keer lewensverlies nie, maar daar sal beslis iets aan die saak gedoen moet word. Solomon Mahlangu is ‘n gevaarlike pad. Die hoeveelheid ongelukke bevestig hierdie feit,” het Pascoe bygevoeg.