Bybel in ’n spruit ontdek
Ancelize van der Kooi en Liza Jansen van Rensburg het verlede Vrydag die spruite vanaf Terblanchestraat begin skoonmaak en op dié rare ontdekking afgekom.

Dit is nie elke dag dat jy ’n Bybel in die middel van ’n spruit tydens ’n klopjag optel nie, maar die lede van die Kilnerpark-sekuriteit het onlangs dié rare ontdekking gemaak.
Ancelize van der Kooi en Liza Jansen van Rensburg het verlede Vrydag die spruite vanaf Terblanchestraat begin skoonmaak om gesteelde goedere, dwelms en teikenareas te identifiseer.
Tydens die klopjag het hulle drie verdagte mans in die spruit naby 28ste Laan in Villieria opgemerk.
“Ons kon nie dadelik by hulle uitkom nie en het om die blok gery. Toe ons naby hulle kom, het hulle spore gemaak en die goed waarmee hulle besig was net daar gelaat. Ons het grimering, naellak en ’n Bybel ontdek,” het Van der Kooi gesê.
Volgens inligting wat Van der Kooi en Jansen van Vuuren kon uitmaak, het ’n ma en pa die Bybel aan hul seun, O’Neil Smith, gegee. Die Bybel is op 12 Oktober 1995 aan die seun oorhandig.
“Ek is seker daarvan dat die bybel baie sentimentele waarde vir die persoon aan wie dit behoort het. Ons hoop dat O’Nell Smith ons sal kontak om die Bybel terug te eis.”
Die inskrywing voor in die Bybel lees “Jy moet die boek vir altyd geniet my kind, daar is die beste raad en verlossing hier binne ingeskryf. Van Dad.”
Daar is ook ’n klein boekmerker vanaf O’Neil Smith se ma wat hom sterkte toe wens.
Navrae: Ancelize van der Kooi by 072-896-3624.