Local newsNewsSchools

Kersfees in November vir Moot-kinders

Kersfees kom vanjaar ’n bietjie vroeër na die Moot toe. Twee barmhartige Samaritane het koppe bymekaar gesit om te verseker dat elke kind van die Moot nie sonder ’n kersgeskenk gaan wees nie. Dus het hulle ’n Kersboom op 30 November by die Hollandia sokkerveld in 22e Laan. Daar is reeds 193 kinders saam met hul gesinne, wat die geleentheid gaan bywoon.

Die feesseisoen is om die draai en almal is bedrywig om hul Kersfees beter as die vorige jaar te maak.

Sommige koop tans Kersfeesversierings terwyl ander nou al daardie perfekte geskenk vir hul geliefde soek. Maak nie saak wat hulle doen nie, die gedagte dat die feesseisoen nader kom, brand in hul onderbewussyn.

Alhoewel Kersfees nog ‘n paar weke weg is, het twee weldoeners van die Moot, Sharon Westcott en Alta de Beer, besluit om Kersfees net ’n bietjie vroeër te maak.

Op 30 November gaan sowat 193 kinders van die Moot by die Hollandia sokkerveld in 22e Laan bymekaar kom om Kersfees in November te vier. Dié Kersboom is ten bate van minderbevoorregte kinders, maar nie almal wat die geleentheid gaan bywoon, is minderbevoorreg nie.

“Alhoewel ons teiken groep minderbevoorregte kinders is, het ons talle ander kinders van die Moot ook uitgenooi om die dag by te woon. Ons wil net seker maak dat die kindertjies van Moot vanjaar elkeen ’n geskenkie van Kersvader ontvang,” het Westcott gesê.

Sy het gesê dat elke ouer R20 registrasie fooi betaal het wat sorg vir lekkernye en geskenkies. Daar was ouers wat selfs ander kinders ook vir die Kersboom-vieringe geborg het.

Westcott het gesê daar gaan vermaak vir groot en klein wees. Sy het gesê selfs Kersvader en sy elfies gaan gereed staan vir individuele foto’s of gesinsfoto’s.

“Gesinne kan piekniekmandjies pak en die dag vanaf 15:00 tot 18:30 saam met ons kom geniet. Ons het verskeie speletjies vir die kinders gereed en daar is ook ’n nar wat as ’n doelwagter in ’n sokkerspel gaan dien. Elke kind wat ’n doel aanteken, gaan dan nog ’n geskenkie van die nar ontvang. Dit hele dag gaan net vol pret en plesier wees. Ons moedig gesinne aan om by dié geleentheid betrokke te raak,” het sy gesê.

Navrae: mootkersboom@gmail.com.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button