‘n Goue jaar vir Affie-musikant
Natali Schutte van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria is 'n jong musikant wat vinnig besig is om naam te maak in die musiekwêreld.
In die historiese musiekhuis by die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria (AHMP) is ’n talentvolle jong musikant fluks aan die werk.
Vanjaar was ’n goue jaar vir die graad 11-leerling, Natali Schutte. Sy het onder meer by die Afrikaanse Kunsvereniging (AKV) en die Beeld Eisteddfod die louere met haar fluit- en vioolspel ingeoes.
Schutte is lid van die Sinfonietta-ensemble van AHMP. Sy is ook ’n lid van die skool se orkes en speel vir die afgelope vyf jaar in die nasionale Simfonia Juventi. Verder het sy ook in Junie as solis opgetree saam met die Randburgse Simfonieorkes.
Schutte het onlangs haar graad 8-Trinity viooleksamen met lof (93%) geslaag. En hoewel sy nog net 17 jaar oud is, het sy al die ATCL Lisensiaateksamen in viool afgelê en wag sy nou opgewonde op die uitslae.
By Beeld Eisteddfod het sy vier trofeë ingepalm – vir beste vioolsolo van alle vioolafdelings, beste moderne vioolsolo, beste viool- en klavierensemble en (vir die tweede jaar) beste barokvioolsolo.
Die lys van toekennings vir haar vioolspel deur die AKV is ewe indrukwekkend. Sy het die beste prestasie deur ’n leerling in die kategorie 16 jaar en jonger, asook die beste concerto-uitvoering, gelewer. Sy het haarself boonop as die beste bladleser bewys en is gevolglik bekroon as beste algehele presteerder (6-18 jaar) én die algehele wenner in die afdeling vir strykers.
Schutte deel die trofee vir algehele wenner – instrumentaal (klavier, strykers, blasers, en blokfluite) met mede-Affie, Landi Schaap.
Die AKV het erkenning aan Schutte gegee as beste presteerder in graad 6 vir fluit, asook vir die beste prestasie gelewer tydens eksamen.
Dit is ’n omtrent mondvol en die Afrikaanse Hoër Meisieskool vertrou dat hierdie talent nog in SA gehoor sal word.
